MOSSELBAAI RUGBY-NUUS - Die Black Warriors-rugbyklub het op Saterdag, 26 Mei die span van Shamrocks in 'n klipharde derby-rugbywedstryd in Buisplaas met 'n volpunte oorwinning van 24-7 geklop.
Dit was Black Warriors se agste agtereenvolgende oorwinning. Black Warriors het van meet af aangeval en reeds in die twaalfde minuut het hul kaptein, die agtseman Marius Solomons die doellyn oorgesteek vir 'n onverdoelde drie. Solomons het sy span met inspirasie gelei.
Dit sal onregverdig wees om Black Warriors se spelers vir hul goeie vertoning uit te sonder, hoewel Franwell "Retallick" Julies (slot) telkemale met sy kraglopies sy span oor die voordeellyn gekry het. Die Black Warriors se blitsige agterlyn het die verdediging telkens oorhoops gehad.
Met Shamrocks sterk op die aanval, het Eljarro Fleur (heelagter) van Black Warriors die balbesit omgekeer en ongehinderd deurgenael vir 'n verdoelde drie. Rustyd telling 12-0 in die guns van Black Warriors.
Na rustyd het die begeesterde span van Shamrocks die doellyn herhaaldelik aangeval en is met 'n verdoelde drie beloon. Black Warriors se pak voorspelers het egter 'n stewige grondslag gelê.
Black Warriors spog met hul agste agtereenvolgende oorwinning nadat hulle die afgelope naweek die span van Shamrocks behoorlik getroef het.
Black Warriors hierna nog twee keer agter die doellyn gekuier en so seker gemaak dat hulle 'n deurslaggewende bonuspunt verdien.
Black Warriors bedank hul ondersteuners wat in groot getalle na Buisplaas gereis het om die span te ondersteun. Die Warriors se volgende wedstryd is op Saterdag, 2 Junie 2018 om 15:00 teen die gedugte Perserverance in Herbertsdale.
Puntemakers vir Black Warriors (24).
Drieë: Marius Solomons, Eljarro Fleur, Bennie Cupido, Gersan Kannemeyer. Doelskoppe is waargeneem deur Enrahim Guyan en Elajrro Fleur.
Shamrocks (7). Die name van die puntemakers was teen druktyd nie beskikbaar nie.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'