MOSSELBAAI NUUS - ’n Barbarians/Blanco-kragmeting het nog altyd vuurwerke opgelewer, en verlede Saterdag was daar op D’Almeidapark geen tekort daarvan nie.
Toe die eindfluitjie blaas het die telbord 14 - 14 gelees. Groot was die teleurstelling op die gesigte van beide spanne se ondersteuners.
Babaas het twee ligapunte uit die wedstryd gekry en staan nou op 30 - hul plek in die top agt is verseker.
Hulle sal egter ’n haas uit ’n hoed moet pluk indien hulle ook vir ’n plek in die halfeindronde wil speel.
Beide Babaas en Blanco het Saterdag vanuit die staanspoor probeer hardloop met die bal, maar hul aanvalle was in die kiem gesmoor weens goeie verdediging. In die vaste fasette, veral in die skrums, het Blanco goeie teenstand teen die swaarder agttal van die tuisspan gebied.
Die besoekers was vroeg in die eerste helfte eerste op die telbord toe hulle met twee strafdoele geslaag het. Die tuisspan se Edgar Syfers (losskakel) het in die 25ste minuut ook met ’n strafskop geslaag ná die besoekers se ongeoorloofde spel by die afbreekpunte. Kort voor rustyd het Eljarro Fleur (vleuel) vir ’n skitterende drie oorgegaan, waarvan die doelskop onsuksesvol was. Met die telling op 8 - 6 in die guns van die Barbarians het die spanne gaan water drink.
Met die afskop van die tweede helfte het die besoekers die Barbarians met goeie aanvallende spel onder hewige druk geplaas en het in die vyfde minuut vir ’n pragdrie oorgegaan. ’n Tydelike stilte het op D’Almeidapark geheers.
In die 10de minuut het Blanco ’n strafskop afgestaan, en Syfers het nog drie punte met die voet bygevoeg. Babaas se ondersteuners het in die 15de minuut weer saam gepraat toe Syfers met ’n skepskop vanaf 5 m binne sy halfgebied slaag.
Hierna was dit die besoekers wat ’n strafskop deur die pale gejaag het, wat ook die laaste punte van die wedstryd was.
Ten spyte van ’n paar omstrede beslissings deur die skeidsregter in die vasteskrums en by die afbreekpunte, kon Babaas hierdie een deurgetrek het.
Verkeerde opsies en ’n gebrek aan ondersteunende spel het die tuisspan egter gekniehalter, maar hieraan kan gewerk word.
Die besoekers kon ook met eer uit die stryd tree na hulle ’n paar strafskoppe binne trefafstand gekry het, maar verkies het om kantlyn toe te skop. Krediet aan die tuisspan se goeie verdediging - hulle het die besoekers by ’n paar geleenthede verhoed om oor die doellyn te gaan.
Babaas se B-span is steeds onoorwonne en wen met 26 - 6, terwyl die C-span gelykop gespeel het met 7 - 7.
Hierdie naweek pak die Barbarians die Crusaders van George in ’n wegwedstryd.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’