MOSSELBAAI NUUS - George RVK se oorwinning van verlede jaar op D'Almeida Park is nog vars in baie Babaas-ondersteuners se agterkoppe.
Verlede Saterdag het die Barbarians egter voor hul tuisskare die bordjies verhang toe hulle George met 47 - 15 geklop het. Die B- en C-span het onderskeidelik met 46 - 0 en 36 - 15 gewen.
In die eerste helfte het die Barbarians met die wind van agter gespeel. Danksy hul agttal se goeie samespel het hulle voor halftyd vier keer agter die besoekers se doellyn gaan kuier.
Nie net was hulle dominerend in die eerste helfte se vaste fasette nie, maar ook by die afbreekpunte. Vanaf die afskop het die Babaas die besoekers met goeie aanvallende spel wat in punte omskep is, onder druk geplaas.
Reeds in die 10de minuut van die eerste helfte het die Babaas se glibberige skrumskakel, Luando Olkers, die besoekers se doellyn vir die eerste vyfpunter oorgesteek. Hierna het die Babaas behoorlik die krane oopgedraai en nog drie keer die doellyn oorgesteek - die veteraan, Braam Syfers (losskakel), was suksesvol met al vier doelskoppe.
Met die telling 28 - 3 in die guns van die tuisspan het die manne gaan water drink.
Met die wind in hul blaaie was dit 'n ander George-span vir die eerste 20 minute van die tweede helfte. Hulle was vroeg op die telbord toe hul losskakel vir hul eerste drie van die wedstryd oorgegaan het. In vergelyking met die eerste helfte het hulle die Babaas in 'n wurggreep gehad, veral in die vaste los.
In die 17de minuut ná volgehoue druk het hulle vir hul tweede drie oorgegaan, wat die gaping vernou het. Ten spyte van die telling op 28 - 15 in die guns van die tuisspan het dit gelyk asof die gevaarligte flikker. Die Barbarians se rotsvaste verdediging het egter die besoekers van hul doellyn af weggehou.
Diep in die tweede helfte was dit weer die Babaas wat oor die doellyn gegaan het vir nog twee vyfpunters ná goeie dryfmaalbewegings deur hul voorspelers.
Boonop was 'n strafdrie ook aan die tuisspan toegeken, as gevolg van ontoelaatbare spel deur George.
"Ons spelers het baie geleenthede gehad om agter die opponente se pale te gaan kuier, maar afronding was nie altyd akkuraat nie," sê Naz Cupido, die Babaas se hoofafrigter.
"Samespel tussen voor- en agterspelers was ook in gebreke, maar dit kan reggestel word. Krediet aan George vir 'n puik vertoning teen Babaas. Ons was egter die beter span en verdien 5 punte uit die wedstryd."
Die Barbarians se volgende opponente is die nuwelinge in die Premierliga, die Blues van Riversdal, vir 'n wegwedstryd. Vir die volgende twee weke sal daar geen ligawedstryde wees nie. Die SWD Premierliga se wedstryde hervat weer op Saterdag, 3 Mei.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’