MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai se Mic Fin Barbarians het verlede Saterdag vir Bridgton met die kous oor die kop van D’Almeidapark af huis toe gestuur.
Die Oudtshoorniete, wat as die gunstelinge opgedaag het, moes met 22 - 13 die knie buig.
Babaas het drie keer gaan druk teenoor Bridgton se twee keer en was die meer aanvallende span in die eerste helfte.
Met die wind van agter het Babaas se losskakel, Edgar Syfers, sy span op die voorvoet geplaas - sy taktiese skoppe het Bridgton onder hewige druk geplaas.
Rotsvaste verdedinging het gesorg dat die besoekers (bekend vir hul hardlooprugby) se aanvalle gedurende die eerste helfte goed in die kiem gesmoor is. Babaas se samespel tussen hulle voor- en agterspelers het ook vir Bridgton gekniehalter.
’n Minuut voor rustyd is Babaas met ’n geelkaart gestraf vir onoorgeloofde spel by ’n losskrum. Hulle was slegs een drie kort van ’n bonuspunt, maar het die eerste helfte op 22 - 3 afgesluit.
Met die wind van agter in die tweede helfte, was dit Bridgton wat gevaarlik gelyk het met die bal in die hand. Hulle hardlooprugby het van die afskop af Babaas se verdediging tot die uiterste beproef.
Hoewel die Barbarians dit nie maklik gemaak het nie, was dit bloot ’n kwessie tyd van tyd voor die damwal sou breek. Die besoekers het met twee drieë geslaag.
Babaas het minstens twee maal hul kanse verspeel en kon geen punte in die tweede helfte aanteken nie - afronding het ontbreek.
Die tuisspan se ondersteuners was warm onder die kraag toe Qurin Cupido geduik is voor hy die bal met ’n oop doellyn voor hom kon vang. Dié geleentheid was byna hul bonuspunt.
Babaas se kanse om vir die uitspeelwedstryde by die agterdeur in te kom is nog lewendig.
Puntemakers
Vir die tuisspan het Amoray Matroos (senter), Edgar Syfers (losskakel) en Wynandré Human (slot) elk ’n drie gedruk. Syfers het met twee doelskoppe en ’n strafskop geslaag.
Vir Bridgton het Dehovine Johannes (heelagter) en Nyabaza Luzoko (stut) elk ’n drie gedruk, terwyl Winfrey Stoffels (losskakel) met ’n strafskop geslaag het.
Die Barbarians se B-span is weer terug op die wenpad en het Bridgton met 46 - 13 kafgedraf. Die C-span het met 19 - 3 verloor.
Eerskomende Saterdag pak die Barbarians vir Blanco in ’n wegwedstryd aan. Dié een is ’n moet-wen vir ’n moontlike plek in die uitspeelrondes.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’