MOSSELBAAI NUUS - Barbarians van Mosselbaai skuif op na die tweede posisie in die SWD Premierliga-rugbykompetisie na hul oortuigende oorwinning van 43-28 oor Blanco op sy tuisveld die afgelope Saterdagmiddag.
Curshwon Mono (linkervleuel, 2), Justin Bhana (heelagter), Aden Jones (plaasvervanger-flank) en Jerome Fillies (plaasvervanger-vleuel) is oor vir drieë vir Barbarians. Bhana slaag ook met 'n doelskop en Macdelin Saayman (losskakel) klits twee doelskoppe, twee strafdoele en twee skepdoele oor.
Blanco se drieë is deur Logan Stoffels (heelagter), Hentzwell Pedro (regtervleuel) en Alton Olivier (linkervleuel) gedruk. Stoffels slaag ook met 'n doelskop en twee strafdoele en Alain Jansen (plaasvervanger-heelagter) klits 'n doelskop en 'n strafdoel oor.
Roshwin Abrahams (heelagter), Ashwill Frans (losskaklel) en Henlin Botha (plaasvervanger-losskakel) is vir die tuisspan oor vir drieë. Abrahams slaag ook met twee doelskoppe.
Progress
Die verdedigende kampioen in die SWD Premierliga-rugbykompetisie, Progress, het Saterdagmiddag sy buurman, Crusaders, in 'n klipharde derby op die Rosemore-sportterrein met 26-18 geklop.
Rustyd was die wenspan met 14-8 voor. Die wedstryd het in 'n feestelike atmosfeer voor 4 000 toeskouers plaasgevind.
Dit was Progress se sesde oorwinning in die kompetisie die seisoen.
Crusaders het 'n groot terugslag gekry toe hul kookwaterflank, Freginald Africa, in die 10de minuut die veld moes verlaat met 'n gebreekte enkel.
Die oud-Arend, wat kliphard is en 'n groot aantrekkingskrag by wedstryde is, is vir ses weke uit en sal defnitief gemis word.
Cameron Mentoor (heelagter), Justin Levendal (slot) en Hendrik Kriek (loskopstut) het die wenspan se drieë gedruk. Fizel Fredericks (linkervleuel) slaag met 'n doelskop en drie strafdoele.
Vir Crusaders het Dean Hopp (vaskopstut) en Curtley Scheepers (buitesenter) drieë gedruk. Henry Wolhuter (heelagter) slaag met een doelskop en twee strafdoele.
Groot Brak
Silver Stars het vir Groot-Brakrivier in sy agterplaas met 29-19 geskok.
Die manne van Rosemore het aanskoulike hardlooprugby gespeel en vier pragdrieë gedruk.
Ashwin Scott, binnesenter, Dillon Kerspuy (skrumskakel), Heinch Leukes (agtsteman) en Jerovin Spandiel (slot) het vir die wenspan gaan druk. Neillin Scott (heelagter) slaag met drie doelskoppe en 'n strafdoel.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'