MOSSELBAAI NUUS - 'n Omstrede skeidsregter-beslissing het die Barbarians Saterdag daarvan weerhou om vyf punte uit hul eerste wegwedstryd te verdien, toe een van hul drieë gekanselleer is.
Barbarians wen egter steeds hierdie wedstryd wat teen Eagle Stars op Sedgefield gespeel is met 13-8.
Dié telling is egter nie die ware weergawe van die wedstryd nie.
Die besoekers was op die die dag se spel, die beter span wat voor en agter een te veel vir die tuisspan was. Barbarians, wat 'n paar sleutelspelers as gevolg van beserings by die huis moes los, het nogtans karakter getoon in hierdie wedstryd, wat in gure weer gespeel is.
'n Speler wat in elke wedstryd vir Barbarians uitblink, die sneltrein Josh Hermanus, se langafstand-drie is deur die skeidsregter gekanselleer. Hierdie was een van die baie omstrede beslissings wat rugby se beeld skade aandoen.
Barbarians wat Evergreens (een van die gunstelinge klubs om vanjaar die SWD semi-finale te haal) in hul vorige wedstryd met 12-6 geklop het, was in 'n soortgelyke situasie. Dis egter gedane sake.
Die besoekers wat die bo-toon voorlangs gevoer het, het hul goed van hul taak gekwyt in die fasette. Hul agterlyn het by tye met goeie aanvallende spel die tuisspan benoude oomblikke besorg, maar afronding het ontbreek.
Barbarians,wat hierdie Saterdag 'n loslootjie het, se volgende wedstryd is teen George op Outeniquapark en behoort 'n titaniese stryd te wees. George speel om 'n plek in die semi-finaal, terwyl Barbarians op 'n hoogtepunt wil afsluit.
Punte: Vir die A-span het Jerome Fielies die enigste drie gedruk terwyl Macdelin Saayman met twee strafskoppe en Morné Buis met 'n doelskop geslaag het.
Ander uitslae
- Barbarians B 42 - Eagle Stars B 10
- Barbarians C 3 - Eagle Stars C 9.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'