MOSSELBAAI NUUS - Die Barbarians-rugbyspan kon vir geen beter voorbereiding met die oog op die SWD Premierliga-klubseisoen gevra het toe dié span die afgelope Saterdag op die D'Almeida Stadion 'n vyfde agtereenvolgende vriendskaplike oorwinning behaal het nie.
Die hoogaangeskrewe Kruisfontein RVK van die Oostelike Provinsie is met 31-12 deur die Babaas tot oorgawe gedwing.
Daar was egter iets ekstra op die spel in die stryd teen die Oos-Kaapenaars. Die Lewies Familie wisseltrofee, geskenk deur dr Rodney Lewies, het sy eerste tuiste in die Barbarians se vertoonkas gevind.
Dié wedstryd sal voortaan op 'n jaarlikse basis beslis word en die Babaas sal op 28 Februarie 2026 hul eer in die Oos-Kaap moet gaan verdedig.
Die Babaas se tweede span was ook veels te sterk vir die naasbestes van Kruisfontein en het met 29-3 geseëvier terwyl die derde span met 49-0 teen Sunshine United van Sonskynvallei as oorwinnaars van die veld gestap het.
Die hoofwedstryd het uit die staanspoor met goeie, konstruktiewe en aanvallende spel die ondersteuners op hul voete gehad. Dit was egter die besoekers wat eerste oorgegaan het vir ‘n vyfpunter - ‘n doodse stilte het vir ‘n wyle op D’Almeida Park geheers.
Babaas se voorspelers het geleidelik die vaste fasette begin oorheers en hulle kon hul vinnige agterlyn op die voorvoet plaas vir hulle eerste drie.
Ná ‘n goeie dryfmaalbeweging deur die tuisspan se voorspelers kort voor rustyd, het hulle weer oorgegaan vir ‘n drie en Barbarians se toeskouers laat begin saampraat.
Krediet gaan aan die besoekers, wat uit die Barbarians se gebroke spel dié span by tye onder druk geplaas het met goeie aanvallende spel, maar hulle kon ongelukkig nie afrond nie.
Met die rustydtelling op 14-5 in die guns van die tuisspan, kon die wedstryd nog na enige kant toe swaai. Die toeskouers het uitgesien na ‘n opwindende tweede helfte.
Babaas se agterlyn het met goeie ondersteunende spel die besoekers se verdediging oopgekloof en nog twee keer agter die doellyn gaan kuier.
Die mooiste drie van die dag is deur Babaas se heelagter, Dewanley van Rensburg, gedruk. Hy het vanaf die middellyn met ‘n kronkellopie sy pad oopgehardloop na die doellyn toe.
Die besoekers, daarenteen, het nie gaan lê nie en is ook beloon met 'n vyfpunter in die tweede helfte, maar toe was die skrif reeds aan die muur.
Naz Cupido, Babaas se hoofafrigter, sê, soos verwag, was die besoekers 'n groter uitdaging.
“Babaas het definitief nie ‘n tree teruggestaan vir een van Oos-Kaap se voorste spanne nie. Krediet aan die Babaas-spelers wat ‘n kans gekry het teen die besoekers. Hulle het baie goed gedoen en diepte aan die groep gebring.
"Natuurlik is daar nog ruimte vir verbetering en daaraan sal ons hard werk met die oog op die ligawedstryde wat op 4 April afskop.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’