Video
MOSSELBAAI NUUS - Ná twee agtereenvolgende nederlae het die Barbarians verlede Saterdag in ’n stampvol D’Almeidapark die botoon teen Bridgton gevoer.
Hierdie opwindende wedstryd het op 46 - 34 in die Babaas se guns geëindig.
Een van die tuisspan se beste wedstryde vir die rugbyseisoen was dit gewis.
Die Barbarians, wat in hierdie seisoen nog onoorwonne op hul tuisveld is, het met dié kragmeting gewys hulle moet nie afgeskryf word nie. Maar Bridgton, wat tans eerste op die punteleer is, ook nie! Hulle het saam met die Barbarians met klassieke aanvallende spel die verbeelding van die paar duisend toeskouers aangegryp.
Die besoekers was vir die eerste 20 minute in beheer van die wedstryd en was vroeg op die telbord. Hulle het ná ’n goeie breekslag in die middelveld vir ’n eerste vyfpunter oorgegaan - dié is ook verdoel. Kort hierna is ’n strafskop aan die besoekers toegeken, wat hulle ook deur die pale gejaag het.
Die Barbarians se agttal het stelselmatig hul stempel in die vastelos begin afdruk en het die besoekers onder hewige druk geplaas.
Veral in die lynstane het die tuisspan hul goed van hul taak gekwyt en is hulle met ’n pragdrie beloon toe hul kaptein, Lohan Potgieter, juis vanaf ’n lynstaan vir hul eerste drie oorgegaan het.
Beide spanne het elk nóg ’n drie gaan druk voordat hulle met ’n rustydtelling van 15 elk van die veld af is.
In die tweede helfte het beide spanne vanaf die afskop met elke beskikbare bal probeer hardloop - dít het die toeskouers op hul voete gehad.
Bridgton het vir ’n tweede keer die Barbarians se verdediging in die middelveld oopgehardloop en vir ’n pragdrie oorgegaan.
Een aspek waaraan Babaas beslis sal moet werk is hul verdediging. Maar ten spyte hiervan het hulle nogtans ’n goeie vertoning gelewer. Hulle samespel tussen voor- en agterspelers was deurslaggewend. Hulle het geskitter op die aanval en het in die tweede helfte vier keer teenoor die besoekers se drie keer gaan druk.
Die hoogtepunt van die dag was toe Branwin Barends, die tuisspan se heelagter, van binne sy kwartgebied gehardloop het om ’n drie te gaan druk - dit was dan ook die wendrie.
VIDEO: Branwin Barends se pragdrie
Video: Heartbeat TV
Die Barbarians se B-span wen met 17 - 15, terwyl die C-span aan die verloorkant van ’n naelskraapstryd was; hulle het die knie met 9 - 10 gebuig.
Hierdie naweek meet die Barbarians teen die Silver Stars op die Rosemore-sportgronde in George kragte. Die Silver Stars is tans goed op dreef en is ook een van die topspanne in die kompetisie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’