MOSSELBAAI NUUS - Die vreugdevure het Saterdagmiddag hoog gebrand in die Crusaders-rugbykamp na hul geskiedkundige oorwinning van 36-33 oor Barbarians op 'n volgepakte D'Almeida-stadion in Mosselbaai.
Dit is die eerste keer in Crusaders se 15-jarige bestaan dat hulle Barbarians op hul tuisveld kon klop.
Crusaders skuif met dié volpunte oorwinning op na die derde posisie op die punteleer met 20 punte.
Die wedstryd was 'n drieëfees en 'n skouspel met Crusaders wat karakter getoon het deur 'n agterstand van 7-17 uit te wis. Crusaders se pak voorspelers het soos stadige gif die lewenslus uit die tuisspan se agttal geblaas. Hul ysters was Freginald Africa, Luvando Mxeke, Arden Wesso, Lyle Delo en Sheldon Bruiners.
Agterlangs het die wenspan se twee tienersensasies, die 19-jarige losskakel, Cuan Belelie, en 18-jarige senter, Curtley Scheepers, gespeel soos veterane.
Hul plaasvervangers Patrick Mbangi, Lixhante Fame, Bongani Ngqolombe het ook 'n groot impak gemaak.
Africa (2), Ngqolambe en Delo het drieë aangeteken vir die wenspan. Henry Wolhuter slaag met 'n doelskop en 'n strafdoel en Belelie klits twee doelskoppe oor.
Barbarians se drieë is deur Jose Petersen (regtervleuel), Shano Rosenkrantz (buitesenter), Danver Amsterdam (flank) en Justin Bhana (plaasvervanger-vleuel) gedruk. Macdilin Saayman (losskakel) slaag met twee doelskoppe, twee skepdoele en 'n strafdoel.
Groot Brak
Die nuweling in die kompetisie, Heidelberg, het op hul tuisveld vir nog 'n groot skok gesorg toe hul die gedugte span van Groot-Brakrivier in 'n rillerstryd van 22-20 geklop het.
Die oud-leerder van Hoër Landbouskool Oakdale, Pieter van Rensburg Uys, wat verlede jaar vir die SWD o/18 Cravenweekspan uitgedraf het, het die wenpunte in die 80ste minuut aangeteken toe hy 'n strafdoel vanaf die middellyn oorgeskop het.
Francois Pieters (linkervleuel), Marchell Marais (skrumskakel) en Simon du Toit het die wenspan se drieë gedruk. Corbin Swartbooi (heelagter) slaag met 'n strafdoel.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'