MOSSELBAAI RUGBY-NUUS - Die span van Mosselbaai Barbarians het Saterdag 'n groot opskudding veroorsaak toe hulle Boland se kampioenspan, Villagers van Worcester op hul tuisveld met 55-19 kafgedraf het.
Die nuut gekroonde Boland-kampioene het verlede jaar in die Premierligafinaal, die span van Wellington in 'n tawwe eindstryd geklop en dus gekwalifiseer om Boland te verteenwoordig in die Gouebekerkompetisie wat binnekort begin.
Dié kompetisie word deur al die top rugbyklubs van die 16 unies gespeel en sorg gewoonlik vir groot vermaak en aanskoulike rugby.
Mosselbaai Barbarians wat verlede jaar in die Premierligafinaal, naelskraap teen Progress verloor het, het die bordjies verhang deur die Bolandse kampioene te verneder.
Die afrigtingspan van Mosselbaai Barbarians, onder leiding van Earl Manie was baie verlig met die beskikbaarheid van die vuurvreterflanke Dillon Afrika en Danver Amsterdam en die vurige slot, Shane Olckers wat voorlangs 'n doring in die vlees was vir die span van Worcester. Oudergewoonte het Barbarians se spogagterlyn die krane begin oopdraai en gesorg vir aanskoulike rugby.
Curshwon Mono (Gibby), die ster van die dag, wat ook aangewys is as speler van die wedstryd, het met sy driekuns seker gemaak dat Boland se inwoners nog lank van hom sal praat.
Hy is agterlangs goed bygestaan deur Justin Bhana en Whalon Anthony.
Volgens mnr Manie is hy baie tevrede met die span se vordering en sal die komende week aandag gee aan die vaste fasette. Hy sien egter daarna uit om Grabouw eerskomende Saterdag, op D'Almeida aan te pak.
Barbarians op pad doellyn toe.
Puntemakers
Doelskoppe: Luan James (2) en een strafskop
Drieë: Curshwon Mono (3), Morné Buis (4), Luan James (1), Whalon Anthony (1), Jerome Fillies (1), Shadward Fillies (2)
B-spanne
Villagers 10 - Mosselbaai Barbarians 14
C-spanne
Villagers 15 - Mosselbaai Barbarians 11
Barbarians kort na hulle Villagers kafgedraf het.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'