Video
MOSSELBAAI NUUS & VIDEO - Die Barbarians het die Crusaders van George die afgelope Saterdag in hul laaste tuiskragmeting van die SWD Superliga A se eerste ronde met 45 - 31 geklop.
Hierdie was Babaas se derde agtereenvolgende oorwinning, wat hulle van 'n plek in die top agt verseker.
Sonder twyfel het die eerste helfte aan die Barbarians behoort. Goeie samespel tussen die tuisspan se voor- en agterspelers het die besoekers vanaf die afskop onder groot druk geplaas. Reeds in die derde minuut het Babaas se woelige agtsteman, Cashwell London, vir sy span se eerste vyfpunter oorgegaan.
Die Crusaders het wal gegooi en die Barbarians se aanvallende spel in die kiem gesmoor met goeie verdediging tot in die 20ste minuut van die eerste helfte. Hulle is met 'n verdoelde drie beloon, en met 'n voorsprong van twee punte het dit gelyk asof die besoekers in beheer van die wedstryd wou kom.
Babaas het egter teruggeslaan en vanaf hul tientreestippellyn die bal deur die hande laat gaan - Ronaldo Fortuin (senter) het uiteindelik vir Alexander Gratz (flank) vir dié span se tweede vyfpunter oorgestuur.
VIDEO: Deur die hande - Gratz gaan oor vir vyf punte
Video: Heartbeat TV
Vir die laaste 15 minute van die eerste helfte het Babaas voor en agter gedomineer en nog drié keer agter die besoekers se doellyn gaan kuier. Met die telling op 33 - 7 in hul guns het die manne gaan water drink.
Die Crusaders se afrigtingskorps moes hard in die kleedkamer gepraat het, want dit was 'n ander Crusaders-span wat vir die tweede helfte uitgedraf het.
Hulle het drie keer gaan druk, en met die kleiner punteverskil het dit gelyk of die wedstryd dalk nog in hul guns kon swaai.
Met die telling op 33 - 24 vir Babaas het die Mosselbaaiers egter weer hul ritme gevind en nog twee keer gaan druk - een hiervan was 'n langafstanddrie deur Curlin Groenewald (vleuel). Hierdie spoedvraat het van sy doellyn af deur die besoekers se verdediging gehardloop vir een van die mooiste drieë nog op D'Almeidapark.
Die Crusaders het voor afblaastyd oorgegaan vir nog 'n drie, maar toe was die skrif reeds aan die muur.
Die Barbarians se B- en C-span het onderskeidelik met 49 - 14 en 30 - 10 gewen.
Hierdie naweek speel die Barbarians in hul laaste wedstryd van die eerste ronde teen Blanco in die Gaatjie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’