SUID-KAAP RUGBY NUUS - In hul laaste vriendskaplike wedstryd voor die aanvang van die premierliga, het Barbarians die span van Ashton 'n rugbyles geleer voor 'n volgepakte D'Almeida-stadion op Mosselbaai.
Barbarians het met 50-28 gewen.
Die Bolanders het van die begin af hard vir die tuisspan gegaan maar kon net nie met die volgehoue pas byhou nie en het dus momentum veerloor.
Die voormalige SWD Arende-skrumskakel, Dillon Snell, het weer eens gewys hoekom hy binnekort 'n oproep kan verwag van die SWD Arende, met sy taktiese samespel tussen die voor- en agterspelers. Hy was 'n doring in die vlees van die besoekers.
Die Bolanders het egter vir die afrigters van Barbarians 'n blik wurms oopgekrap met die tuisspan se swak skrumwerk en lynstane. Met Bradley Samaro en Morne Makway wat gereeld op haker uitdraf het beide hierdie eerste keuse hakers die wedstryd gemis met las van besering en kon die instaan hakers dus nie hul springers in die lynstane vind nie.
Die skrums het ook nie veel beter gegaan met 'n eksperimentiële voorry wat deur die veteraan Vivian Groenewald aangevoer was. Groenewald wat deurgaans deur die skeidsregter gestraf is vir die ontwettige swaai van die skrum, moes die wedstryd verlaat met 'n rooi kaart nadat hy reeds vroeër in die wedstryd 'n geel kaart gekry het.
Die span se agterlyn het weer eens gesorg vir groot vermaak met Jose Petersen wat in sy eerste wedstryd vir die jaar gespeel het. Die skare was ook verras met die terugkeer van die 2018 seisoen kaptein Winston Seconds.
Barbarians begin hulle eerste premierliga wedstryd op die 23 Maart teen Heidelberg op D'Almeida-stadion en sal baie vinnig hul sokkies moet op trek. Volgens die hulpafrigter, Gareth Groenewald, weet hulle nou presies waar die span se leemtes is en dus wag daar 'n harde twee weke oor vir die spelers voor hulle Heidelberg pak.
Tenspyte van 'n swak vertoning het die tuisspan Ashton 'n rugbyles geleer wat hulle nog lank sal onthou.
Barbarians se B-span het met 31-10 gewen. Hul C-span het 10-14 verloor.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'