MOSSELBAAI NUUS - Die Barbarians het hul indrukwekkende rekord op Blanco se tuisveld, die Gaaitjie, voortgesit nadat hulle die tuisspan Saterdag 13 Junie naelskraap met 26 - 19 geklop het.
Die wedstryd was deurgaans taai en het op plekke lelik geraak, en verskeie geel kaarte en ’n rooie het die spel beïnvloed.
Ten spyte daarvan het albei spanne goeie aanvallende rugby gelewer en die toeskouers op hulle voete gehad.
Die Barbarians se agterste driehoek het vroeg reeds gevaarlik op die teenaanval gelyk, terwyl hul voorspelers sterk by die afbreekpunte vertoon het.
Die besoekers het in die 10de minuut die eerste slag geslaan toe die blitsige linkervleuel, Curlin Groenewald, in die hoek oorgeduik het ná goeie samespel tussen voor- en agterspelers.
Blanco het egter teruggeveg en hul verdediging opgeskerp, met twee drieë wat hulle voor rustyd terug in berekening gebring het. Die Barbarians het met 19 - 12 hul rustyd geneem.
In die tweede helfte het Blanco volgehoue druk toegepas en die telling op 19 - 19 gelyk gemaak, wat die wedstryd weer vir beide spanne oopgegooi het.
Met die wedstryd op ’n mespunt het die Barbarians uiteindelik die oorwinning beklink toe slot Chernan Josephs kort voor afslagtyd met sy kenmerkende stormlopie vir die wendrie oor is.
In die ander wedstryde het Barbarians se B-span 14 - 12 verloor, terwyl die C-span 17 - 13 gewen het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’