MOSSELBAAI RUGBY-NUUS - Liplekker-rugby word môre, Saterdag 18 Augustus, in die uitspeelrondes van die SWD Premierliga-rugbykompetisie verwag.
Die verdedigende kampioen, Progress, wat die seisoen met 73 punte bo-aan die punteleer geëindig het, pak op die Rosemoor-sportterrein vir Evergreens, wat vierde geëindig het met 59 punte.
Crusaders, wat derde geëindig het met 64 punte, reis na Mosselbaai waar hy vir Barbarians die stryd aansê op D'Almeida-park. Laasgenoemde het tweede geëindig met 65 punte.
Die finaal vind Saterdagmiddag, 1 September op Outeniquapark plaas.
Bridgton van Oudtshoorn, wat vyfde geëindig het met 59 punte, kan baie ongelukkig wees om nie in die uitspeelrondes te speel nie. Hulle het met dieselfde aantal punte as Evergreens geëindig, maar laasgenoemde se beter punteverskil van (+255) het hul na die uitspeelrondes laat deurdring.
Barbarians
Barbarians-rugbyklub het die groter Mosselbaai trots gemaak toe hulle verlede Saterdag vir Bridgton van Oudtshoorn op D'Almeida-park geklop het.
Al drie die spanne het deurgedring na die semi-finaal wat op D'Almeida sal plaasvind, 'n gebeurtenis wat allerweë as 'n groot eer vir die dorp beskou word.
Gerrit Lambrecht (met bal) stamp vir Marcelino Meyer af met sy spanmaat Fernell Pretorius (regs) wat hom ondersteun. Links kom Rudi Michaels, skrumskakel, aangedrat met Riaan Tromp, flank, regs agter. Evergreens het klippe gekou teen Heidelberg, maar uiteindelik in die doodsnikke met 36-30 gewen. Foto's: Anton Gericke
Evergreens
Evergreens moes verlede Saterdagmiddag op die Pacaltsdorp-sportterrein voor 'n groot skare hard werk om 'n begeesterde span van Heidelberg met 36-30 te klop.
Dit was 'n aanskoulike wedstryd wat in winderige omstandighede mooi hardlooprugby deur beide spanne opgelewer het.
Evergreens se verdediging was in die eerste helfte power en hulle het te veel hanteerfoute gemaak. Die manne van Heidelberg het dit uitgebuit en drie skitterende drieë gedruk en was rustyd met 20-12 voor.
Barbarians het ondersteuners verras deur 'n halfeindstryd op hul tuisveld af te dwing.
Crusaders
Crusaders het verlede Saterdag teen Blanco op hul tuisveld binne 20 minute hul plek in die uitspeelrondes teen Barbarians bespreek toe hulle hul vierde drie gaan druk het en sodoende die bonuspunt bekom het wat hulle benodig het. Crusaders het maklik met 40-19 gewen.
Tweede en derdes
Op Rosemoor sal Progress se tweede span, wat derde geëindig het op die punteleer met 64 punte, vir Evergreens pak wat tweede geëindig het met 69 punte.
In die derdeliga-uitspeelwedstryd kom Progress, wat tweede geëindig het met 61 punte, op sy tuisveld teen Evergreens, wat derde geëindig het met 60 punte, te staan.
Barbarians se tweede span, wat eerste geëindig het met 69 punte, pak vir Heidelberg, wat vierde geëindig het met 59 punte terwyl Barbarians se derde span, wat ook boaan die punteleer geëindig het met 68 punte, teen Groot-Brakrivier te staan kom, wat vierde geëindig het met 58 punte.
Riaan Tromp, flank, klap die bal betyds weg voor Heidelberg se Lyndon Hartnick. Anston Bernardo (links) ondersteun vir Tromp en Gerhard Geldenhuys (regs) vir Hartnick.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'