MOSSELBAAI RUGBY-NUUS - Barbarians-rugbyklub het die groter Mosselbaai trots gemaak toe hulle verlede Saterdag teen Bridgton van Oudtshoorn op D'Almeida-park vir 'n semi-finaalwedstryd op hul tuisveld gekwalifiseer het.
Al drie die Barbarians-spanne het deurgedring na die semi-finaal wat op D'Almeida sal plaasvind, 'n gebeurtenis wat allerweë as 'n groot eer vir die dorp beskou word.
Volgens die klub se voorsitter, Dawid Kamfer was dit 'n opdraende paadjie om tot by hierdie mylpaal te vorder; die bestuursverkiesing het laat plaasgevind nadat SWD moes inspring om die verkiesing te wettig na heelwat omstredenheid.
"Daarna was die beskikbaarheid van geskikte spelers om Barbarians hul man te laat staan in die uitdagende kompetisie, 'n verdere uitdaging aangesien 11 spelers sedert 2017 die span verlaat het. Die klub se nuwe bestuur moes vinnig hul voete vind, maar ek kan met dankbaarheid sê die bestuurslede het my baie sterk ondersteun," aldus Kamfer.
"Ek het van vroeg af vir almal - spelers, afrigters en die bestuur - gesê om hande te vat en te bou aan 'n wenspan. Barbarians het, met die spelers wat ons het en ongeag ons eerste verloor, gefokus gebly. Die eerste verloor teen 'n span wat maar pas in die kompetisie ingesluit was, het ons laat besef dat geen span of speler onderskat kan word nie. As bestuur het ons die spelers deurentyd gemotiveer om positief te bly en Barbarians het 'n paar groot spanne hier en tydens die wegwedstryde die knie laat buig.
"Die suksesse is ook grootliks te danke aan die ondersteuners wat die span goed onderskraag het en altyd net die beste van elke wedstryd en speler verwag het. Die hoogtepunt sover was ongetwyfeld toe Barbarians die naaswenners in die liga oortuigend gewen het en verlede jaar se kampioene op hul tuisveld afgestof het.
"Daar wag 'n blink toekoms vir Barbarians mits die regte mense, wat bereid is om rugby te dien en die klub in die toekoms te lei, gaan saam werk om die spelers en die bestuur te ondersteun en die spel voorop te stel," sê Kamfer.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'