Video
MOSSELBAAI NUUS - Verlede Saterdag, 15 Augustus, het die Barbarians op D'Almeidapark die hoog aangeskrewe Heidelberg met 'n telling van 60 - 12 afgeransel.
Met hierdie oorwinning het Babaas ook hul wendroogte teen Heibi gebreek, want sedert 2022 kon hulle Heidelberg nog nie by D'Almeidapark klop nie.
Die besoekers, bekend vir hul aanvallende spel, kon slegs twee keer die doellyn oorsteek, teenoor die Barbarians se nege keer.
Reeds van die afskop af het Babaas se swaarder en beweeglike agttal hul stempel in die vastelos afgedruk en hul blitsige agterlyn op die voorvoet geplaas. Die tuisspan se agtal het as 'n eenheid saamgespeel en met hul kenmerkende dryfmaalbewegings oor die voordeellyn gekom. Goeie samewerking tussen voor- en agterspelers het gesorg vir vier drieë in die eerste helfte.
Heidelberg se agterlyn het ook by tye die tuisspan se verdediging onder druk geplaas. Hul twee vyfpunters, waarvan een verdoel is, is juis in dié helfte gedruk. Teen halftyd was die telbord op 27 - 12.
Met goeie balhantering en klassieke aanvalslyne het Babaas telkemale gedurende die tweede helfte oor die voordeellyn gekom - hulle het behoorlik die krane oopgedraai en nog vyf keer agter die besoekers se doellyn gaan kuier.
VIDEO: Só maak spanwerk ’n drie moontlik
Video: Heartbeat TV
Die hoogtepunt van die dag was Babaas se twee vlugvoetige agterlynspelers, Branwin Barends en Jason Jonas, wat in hul kwartgebied met 'n teenaanval begin het. Ná goeie balhantering het Fernhaldt Scheepers oorgegaan vir 'n pragdrie.
Barbarians se B- en C-span het onderskeidelik met 27 - 14 en 12 - 0 gewen.
Dié naweek meet die Barbarians teen Progress in Rosemoor kragte.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’