RUGBYNUUS - ‘n Begeesterde Maories rugbyspan van George, het die afgelope Saterdag Mosselbaai se Barbarians al hul dae gegee in die A-liga van die Suidwestelike Distrikte (SWD) se klubliga.
Die besoekers het met hul aanvallende spel en kraglopies op D’Almeida Park die tuispan vir lang periodes benoud laat leef voor hulle uiteindelik met 46-29 as oorwinnaars van die veld kon stap.
Danksy rotsvaste verdediging, veral in die laaste 10 minute van dié boeiende stryd, kon die Babaas daarin slaag om die besoekers van die doellyn weg te hou. Beide spanne verdien krediet vir hul aanvallende spel, wat die toeskouers by tye op hul voete gehad het. Met die rustydtelling 17-elk was daar 'n hele paar ondersteuners, wat ook maar taamlik benoud voorgekom het.
Maar die tweede helfte het hulle weer breed laat glimlag toe 'n kliniese tuisspan met goeie ondersteunende spel tussen voor- en agterspelers die besoekers uiteindelik tot oorgawe gedwing het. Die telling is ietwat misleidend omdat die Babaas se skopwerk pale meer akkuraat was as dié van die Maories, maar as daar gekyk na die drieë van 7/5 gee dit ietwat balans oor hoe die wedstryd werklik verloop het.
Die wedstryd kon enige kant toe geswaai het, maar vergeleke met van die Babaas se vorige kragmetings, was dit 'n baie beter algehele spanpoging, wat die skaal in die guns van die tuisspan geswaai het.
Die welkome 5 ligapunte hou die deur ook op 'n skrefie oop om steeds die halfeindronde te haal, maar dan sal 'n paar ander permutasies ook plek moet val. Die 2de en 3de spanne ,wat onderskeidelik met 53-12 en 62-12 gewen het, se kanse lyk nog stewig op koers om die uitspeelrondes te haal.
Die Barbarians het dié naweek 'n loslootjie voor hulle aanstaande naweek na Knysna moet reis waar die Jaguars op hulle wag.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’