MOSSELBAAI NUUS - Soos verwag het die Silver Stars-Barbarians-kragmeting hierdie afgelope Saterdag kookwaterrugby by die Rosemoor-sportgronde in George opgelewer.
Die Barbarians, wat hierdie wedstryd in die doodsnikke naelskraap met 30 - 28 gewen het, het gewys hulle kán vir 80 minute rugby speel.
Die Stars, bekend vir hul swaar en beweeglike agttal, kon nie voorlangs hul stempel in die eerste helfte afdruk nie en was by tye in trurat as gevolg van Babaas se konstruktiewe spel in die vaste fasette.
Vanaf die afskop het beide spanne met aanvallende spel die skare op hul voete gehad, maar goeie verdediging aan beide kante in die eerste 15 minute het albei spanne daarvan weerhou om vir ’n vyfpunter oor te gaan.
Die Barbarians se Justin Williams (Biggy) was ná ’n goeie rolmaalbeweging op die Stars se doellyn in die 17de minuut eerste vir ’n vyfpunter oor. Die veteraanlosvoorspeler Wayne Khan het vir die tuisspan se enigste drie in die eerste helfte oorgegaan, terwyl Shane Vaughn (flank) in die 40ste minuut Babaas se tweede vyfpunter aangeteken het.
Met die telling op 18 - 14 in die guns van die besoekers het rustyd aangebreek.
Vroeg in die tweede helfte was die tuisspan op die aanval, maar hulle kon nie die besoekers se verdedigingslyne breek nie. Babaas was egter weer eerste op die telbord toe hul skrumskakel, Lando Olkers, weens ’n blaps van Silver Stars nog ’n vyfpunter aangeteken het.
Die tuisspan moes hierna twee keer agter die besoekers se doellyn gaan kuier het, maar hanteerfoute het hulle gekelder.
Dit was egter net ’n kwessie van tyd voor hulle weer tot die telbord sou bydra. Met 15 minute se speeltyd oor het die Stars met ’n goeie breekslag vir ’n pragdrie oorgegaan, wat verdoel is. Met die telling op 25 - 21 kon die wedstryd nog enige kant toe swaai.
VIDEO: Barbarians se Eschen Jansen kry ’n goeie lopie in
Video: Heartbeat TV
In die laaste 10 minute het die tuisspan met aanvallende spel groot druk op die Barbarians geplaas en is hulle met ’n tweede verdoelde drie beloon. Met 28 - 25 in die Stars se guns en slegs vier minute speeltyd oor, het ’n oorwinning vir hulle gewink. Die Barbarians het egter ander planne gehad. Hulle het diep ingeskop en die Stars in hul kwartgebied vasgepen - dít het gelei tot ’n strafskop. Babaas het die kantlyn opgesoek en vanaf die lynstaan ’n dryfmaalbeweging uitgevoer, waartydens die tuisspan weer oortree het. ’n Vinnige tikskoppie 5 m van die tuisspan se doellyn deur die Barbarians se Quren Cupido (senter) het gelei tot Alexander Gratz (flank) se drie - die wenpunte.
Die Barbarians het uit ’n gewisse nederlaag ontsnap, maar ’n wen is ’n wen.
Babaas se B- en C-spanne het onderskeidelik met 10 - 19 en 8 - 11 verloor.
Hierdie naweek pak die Barbarians vir die Crusaders op D’Almeidapark, terwyl die Silver Stars oor die berg moet gaan om teen Bridgton te staan.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’