MOSSELBAAI NUUS - Ná vier agtereenvolgende wedstryde in die top-8, is die Barbarians nog steeds onoorwonne en beklee tans die eerste plek op die punteleer.
Babaas, wat verlede Saterdag die hoogaangeskrewe Crusaders op hul tuisveld, Die Beeskraal, met 24 - 14 geklop het, se kanse om die uitspeelrondes te haal lyk baie goed.
Oor die jare was die Crusaders nog altyd ’n moeilike tuisspan om te klop. Saterdag het hulle, ten spyte van die nederlaag, nogtans dié reputasie gestand gedoen - hulle het die Barbarians vanaf die afskop met aanvallende spel onder druk geplaas.
Voorlangs was dit ’n titaniese stryd tussen die twee pakke voorspelers en dit gelyk asof die Crusaders die botoon in die vastelos gaan voer. In die lynstane was Babaas egter die beter span.
Reeds in die derde minuut was die Crusaders op die telbord met ’n strafskop ná ongeoorloofde spel deur Babaas. Kort daarna is die Barbarians weer gestraf; nog drie punte vir die Crusaders.
In die 15de minuut het die Barbarians se blitsige Brenwin Barends vir sy span se eerste vyfpunter oorgegaan, wat dan ook verdoel is.
Die Crusaders het op ’n paar geleenthede met goeie aanvalslyne Babaas se verdediging in die middelveld op die agtervoet gehad, maar kon nie afrond nie. Afronding het egter nie by Babaas se Qurin Cupido ontbreek nie - hy het met ’n goeie alleenlopie vir sy span se tweede drie oorgegaan. Teen halftyd was die telling 12 - 6 in die Barbarians se guns.
Die tweede helfte het teen ’n vinnige pas begin. Beide spanne het met goeie aanvallende spel hul ondersteuners op hulle voete gehad. ’n Kombinasie van hanteerfoute en hul opponente se goeie verdediging het egter die Crusaders gekelder. Die tuisspan kon met een drie in dié helfte slaag, maar die Barbarians het weer twee van hul eie gedruk, hoewel hulle hard daarvoor moes werk.
Die Barbarians se B- en C-spanne het onderskeidelik met 42 - 19 en 15 - 10 gewen. Tans beklee die B-span ook die eerste posisie op die punteleer, terwyl die C-span in die tweede posisie is. Wedstryde hervat weer op 15 Augustus.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’