MOSSELBAAI NUUS - In hul vierde agtereenvolgende oorwinning verlede Saterdag in ‘n volgepakte D’Almeida Park, het Babaas gewys hulle gaan moeilik in vanjaar se rugbyseisoen geklop word.
In ’n herontmoeting het hulle vir Groot-Brakrivier, die voormalige SWD-kampioene, in ’n titaniese stryd met 33-19 geklop. Die B- en C-span het onderskeidelik met 29-12 en 12-10 gewen.
Aantreklike hardlooprugby was 'n kenmerk uit dié derby en het D’Almeida Park laat bulder.
Soos dit dan ook soms by ’n tradisionele derby gaan, hetsy vriendskaplik of liga, het die humeure maar met tye opgevlam. Die skeidsregter se streng optrede met ’n paar geelkaarte aan beide spanne het egter die gemoedere laat sak.
Naz Cupido, hoofafrigter van die Barbarians, sê Saterdag was inderdaad ’n goeie 50 minute van rugby, “maar ons dissipline is ’n bron van kommer”.
“Die afstaan van strafskoppe was kommerwekkend en so het ons ’n bietjie uitgerafel. Dit is dinge wat ons kan regstel voor die afskop van die liga. Ek is nogtans tevrede met die vordering van die span tot dusver, asook met ’n paar jong spelers wat hulle hande opgesteek het.”
In vergelyking met die eerste vriendskaplike wedstyd tussen dié twee spanne waar Babaas 46-0 gewen het, was dit egter 'n ander Brak wat hierdie maal opgedaag het.
Die Brakkies het drie keer die doellyn oorgesteek teenoor die tuisspan se vyf keer en kon hierdie een deurgetrek het. Babaas kon slegs een drie in die tweede helfte aanteken teenoor die besoekers se twee en is dus goed onder druk geplaas.
Die tuisspan se goeie verdedigingslinie het egter die Brakkies se aanvalle in die kiem gesmoor. Oor die feit dat beide spanne twee blitsige agterlyne het, bestaan daar geen twyfel - Babaas is ’n kortkop voor die Brakkies.
Voorlangs was dit ’n gelykopstryd tussen die twee pakke voorspelers, wat by tye met goeie dryfmaalbewegings na vore gekom het.
Die onoorwonne Babaas kom hierdie Saterdag, 15 Maart, weer op D’Almeida Park teen Kruisfontein RVK van die Oos-Kaap te staan.
Kan hulle Kruisfontein (wat hoog aangeslaan word in die Oos Kaap) ook met die kous oor die kop huis toe stuur? Hierdie sal Babaas se laaste vriendskaplike wedstryd wees voor die aanvang van die SWD Premierliga-wedstryde op 5 April.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’