RUGBY NUUS - Arrows-rugbyklub van Slangrivier het Saterdag 11 Junie in die SWDRU Eersteliga-Wes tuiswedstryd vir die tweede week na mekaar die onderspit gedelf toe hulle net-net teen Young Roses van Pacaltsdorp met 7-5 verloor het.
Onnodige hanteerfoute van beide spanne het tot slordige spel bygedra. Die wedstryd is voorlangs baie hard gespeel en nie een van die twee spanne kon werklik beheer uitoefen nie.
Dit het bygedra dat die spanne lemoene gaan geniet het sonder om punte aan te teken.
Die tweede helfte het ietwat beter verloop met minder foute, maar uitstekende verdediging deur albei spanne het enige poging om punte aan te teken in die kiem gesmoor. Die tuisspan het wel halfpad deur die tweede helfte die droogte gebreek met ’n drie deur Janico Pieters, plaasvervanger senter.
Die besoekers het in die laaste vyf minute die wenpunte aangeteken met ’n drie onder die pale deur Jerome Koeries, plaasvervanger linkervleuel. Die drie is deur Jandré Oliphant, losskakel, verdoel.
In die wedstryd tussen die B-spanne het die tuisspan as oorwinnaars met 32-24 uit die stryd getree, nadat hulle met 21-12 gedraai het.
Arrows en Young Roses spelers skarrel om besit van die bal te kry terwyl Jan Joseph, skeidsregter, die aksie dophou.
Puntemakers vir Arrows was Bronwayne Booysen (senter), John Michaels (skrumskakel), Bentino Hopp (flank), Charlton Baardman (plaasvervanger slot) en Calvin Hartnick (plaasvervanger losskakel) wat elkeen ’n drie gedruk het om ’n bonuspunt te verseker.
Michaels het ook met twee doelskoppe en een strafskop geslaag.
Vir Young Roses het Evan Michaels (heelagter), Dwayne Hector (regtervleuel), Llewellyn van Rooy (senter) en Gershwin Johnson (plaasvervanger losskakel) elk ’n drie gedruk. Edward Hector (losskakel) het twee drieë verdoel voor hy met ’n besering vervang is.
Arrows en Young Roses se slotte rank hoog om besit van die bal.
Arrows en Young Roses spelers skarrel om besit van die bal te kry terwyl Jan Joseph, skeidsregter, die aksie dophou.
Skouerbeserings was aan die orde van die dag tydens beide wedstryde tussen Arrows en Young Roses.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'