Gallery
RUGBY NUUS - Die SWD Arende wil voortbou op die stewige oorwinning wat hulle Vrydagaand, 24 Februarie, op Outeniquapark behaal het toe hulle die Luiperds 40 - 7 geklop het. Die span se fokus is nou op die Grens Bulldogs teen wie hulle Saterdag 4 Maart in Oos-Londen speel.
Vrydagaand is 'n stewige fondament gelê en rustyd was die Arende reeds 27 - 7 voor. In die 29ste minuut kon die skare dalk dink hulle is op Twickenham in Londen.
Net soos Duhan van der Merwe onlangs vir Skotland regdeur Engeland se span gehardloop het, het Darryn Fortuin ook 'n skitterende drie vir die Arende gedruk. Hy het 'n breekslag gemaak en reg deur die Luiperds gehardloop.
Anton Moolman, hoofafrigter van die Arende, het Maandag gesê hy is baie tevrede met sy span se vertoning.
Ben Brinkhuis, president van SWD-rugby en Anton Moolman, hoofafrigter van die Arende, kort voor die begin van die wedstryd.
Die Arende het vyf keer agter die doellyn gaan kuier en ook 'n bonuspunt gekry. Volgens hom was die verskil die afgelope naweek dat die spelers as 'n span gespeel het en hul gesindheid het ook 'n rol gespeel.
Die Arende besef die Bulldogs gaan 'n uitdaging in Oos-Londen wees. Dis 'n tuis-wedstryd vir die Bulldogs en hulle het hul ondersteuners daar.
Die fokus vir die Arende is om nou meer klinies te wees en meer bal by die agterspelers te kry sodat behoorlike rugby gespeel kan word.
Die Arende en Luiperds tydens Vrydagaand se wedstryd. Foto's: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'