GEORGE NUUS - Die SWD Arende het Vrydagaand, 22 April nie hul ondersteuners teleurgestel, wat nieteestaande koue, nat weer by Outeniquapark opgedaag het. Die span het sy tweede oorwinning in die eerste divisie van die 2022 Curriebekerreeks behaal toe hy die Luiperds met 17-15 geklop het.
Die span kan nou spog met twee oorwinnings uit drie wedstryde.
Vrydag was egter nie sommer net 'n oorwinning nie. Tot op die einde was die uitslag in die weegskaal. Die eindfluitjie het al geblaas en spel moes voortgaan. Die Luiperds het 'n drie gedruk en die telling was 17-15. Alles het afgehang van die doelskop. Ongelukkig vir die Luiperds was die bal teen die regter regoppaal vas.
Uitbundige tonele van vreugde het hulle op Outeniquapark afgespeel. 'n Glimlaggende Hennie Baartman, president van SWD Rugby, het gesê die oorwinning beteken baie vir die unie en die span. Die span verbeter elke week. Die span gaan vorentoe net sterker en beter word.
Anton Moolman, hoofafrigter van die span, het Maandag gesê dis duidelik dat die span die afgelope vyf weke ontwikkel het. Die span het die eerste 60 minute van die wedstryd beheer. Hy is baie tevrede met die span se vertoning in die eerste 60 minute. Hy het bygevoeg dat die span baie goed verdedig het in die laaste 20 minute.
"Die manne het karakter gewys in die wedstryd. Die Luiperds het nie verwag dat die wedstryd so uitgespeel sou word nie. Ons het met 'n plan ingegaan en hulle onder druk geplaas. Ons het die oorwinning verdien."
Hy is tevrede met die bou van die span. "Die span verbeter met elke wedstryd. Hulle speel met selfvertroue in die uitvoering van hul take."
Hy het gesê daar is wel een of twee fasette wat kan verbeter. Dit is byvoorbeeld om in die vaste fasette beter te verdedig. "Dit moet aandag kry."
Volgens Moolman het die Arende beslis nog 'n kans in die reeks van die eerste divisie. Die span is op die oomblik in die 5de plek.
*SWD o/20 het ook Vrydag die streek se naam hoog gehou in nog 'n naelbytstryd. Die span het Grens o/20 in Oos-Londen met 10-9 geklop.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'