RUGBYNUUS - Die SWD Arende het ongelukkig vanmiddag sy eerste wegwedstryd in vanjaar se eerste divisie van die Curriebekerreeks teen die Griffons verloor.
Die wedstryd is in Welkom in die Vrystaat gespeel en die Griffons het 40-16 gewen.
Die Griffons was rustyd 16-9 voor. Dit was 'n harde wedstryd en die Arende het goed vertoon in die eerste helfte.
Die Arende het nou vier wedstryde agter die blad in die reeks waarvan hy twee gewen het en twee verloor het.
Die span keer reeds vanaand terug na George.
Anton Moolman, afrigter van die Arende, het vanaand aan die George Herald gesê die span het ordentlik gespeel in die eerste 40minute. Toe rustyd aanbreek was die Arende beslis nog in die wedstryd. Die Griffons het eindelik die wedstryd in die tweede helfte beklink. In die geheel is die Arende groep teleurgesteld. Die span het beter gespeel as wat die uitslag aandui. Hy het bygevoeg dat die Griffons geleenthede geskep het en dit benut het.
Die Arende se volgende wedstryd is ook 'n wegwedstryd. Die span speel Saterdag 14 Mei teen die Valke in Brakpan.
SWD se O/20 span het vanmiddag teen die Boland Kavaliers se O/20 span in Wellington met 36-22 verloor. SWD O/20 se volgende wedstryd is 'n tuiswedstryd in George teen Grens O/20. Die wedstryd vind aanstaande naweek plaas.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'