TUINROETE NUUS - Die SWD Arende het bloedneus gekry in vanjaar se SuperSport-uitdaagreeks. Die redes oor dié gesukkel is al snuif getrap en dit sal nie help om nou die derms uit te ryg nie.
Die redes vir dié geploeter is vir sy plaaslike rugbyondersteuners oorbekend. En die SWD-bestuur en afrigtingskorps sal dit ruiterlik erken dat een oorwinning in vyf probeerslae neig om mens goorpens te wil gee.
Die Arende het verlede naweek op George by die Rosemoor-stadion met 43-28 teen die Boland-Kavaliers vasgeval.
Maar dis gedane sake.
Al wat die SWD nou het om voor te speel, is hul trots.
Dit kan hulle bewys met 'n passievolle vertoning eerskomende Vrydagaand op Outeniquapark teen die Grens-Bulldogs. 'n Stewige oorwinning oor 'n span wat laer as hulle op die puntelys lê, sal nie die Arende se sukkelvertoning ongedaan maak nie.
Hulle is immers lank al reeds uit die wedloop in die uitdaagreeks geboender.
Maar met die oog op die Curriebeker-seisoen wat voorlê, is dit uiters belangrik dat die Arende nou opstaan en hul spiere bult. Dit sal help om die saadjie van twyfel wat gesaai is, te verdryf en hulle 'n stewige sielkundige hupstoot gee vir hul veldtog in die eersteliga, wat hulle in 2018 gebuit het.
Wen alle oorblywende wedstryde en wen dit goed.
Die afskop vanaand, Vrydagaand 31 Mei op Outeniquapark is om 19:00.
Die span was met druktyd nog nie bekend nie.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete nuus'