SUID-KAAP SPORT NUUS - Eina Maryna. Die SWD Arende se veldtog in die SuperSport-uitdaagreeks het op 'n droewige noot begin toe die Westelike Provinsie hom verlede Saterdag in Oos-Londen met 62-7 oorrompel het.
Die Arende het 15 klubspelers in sy beginspan ingespan en dié groot nederlaag was dus te wagte.
Van 'n voorseisoense voorbereiding was daar nie veel sprake nie en die arme Eddie Myners, hoofafrigter, en sy helpers moes in die beperkte tyd voor die afskop van dié reeks berge versit én hoop op 'n wonderwerk.
Dit het nie gerealiseer nie.
In die SWD se MicFin Premierliga-klubkompetisie is dit Evergreens wat die pas aangee met 24 punte ná vyf wedstryde. In sy nek blaas Barbarians (20) en Crusaders (19 ná 4).
Ook sterk in die wedloop is George (17), Progress (15) en Groot-Brakrivier (15).
Progress pak Silver Stars, steeds sonder 'n sege vanjaar, op hul tuisveld in 'n derby wat die kampioen maklik behoort te oorheers.
Die twee wedstryde wat beslis dopgehou sal word, is die kragmeting tussen Blanco en Bridgton in die Gaatjie en Heidelberg wat George op sy tuisveld pak.
Veral laasgenoemde gaan 'n oorlog in die kleine ontketen met Heidelberg wat spog met 'n trotse tuisrekord.
George, daarenteen, is aan die opmars en sal met 'n oorwinning sy vierde plek wil beskerm.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'