RUGBYNUUS - Met reën, wat in vlae oor Outeniqua Park uitgesak het, het die rugbyspan van die SWD Arende Vrydagaand baie goeie rekenskap van hulself gegee teen die Pumas van Mpumalanga.
Die Arende het met 12-31 verloor teen vanjaar se naaswenner in die Curriebeker-reeks ná die tuisspan met die rustyd met 5-14 agter was.
Met die aanhoudende reën was toestande allermins ideaal, maar dit was veral die Arende se hantering wat verbaas het met die gladde bal.
Ofskoon dit net 'n oefenwedstryd was, was die Arende se afrigter, Anton Moolman, reeds met die rustyd heel in sy noppies.
"Sover is ek tevrede. Daar is nog werk om te doen in die lynstane en die skrums, maar ek is tevrede sover," het hy gesê.
Die besoekers het kort ná die rustyd met 'n onverdoelde drie die telling tot 19-5 gerek.
Hulle kon egter eers in die laaste 10 minute daarin slaag om heeltemal die oorhand te kry en die telling buite bereik van die tuisspan plaas.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’