Op hierdie wyse hoop die unie om binne die afsienbare tyd ‘n gedugte senior span uit eie geledere in die veld te stoot.
Bevin Fortuin en Anton Leonard, twee oud-Springbokke wat hul rugby in die SWD geleer het en ‘n bewys is van watter talent die SWD oplewer, is aangestel as die hoofafrigters van onderskeidelik die SWD o.21 en o.19-spanne.
Beide spelers het diep spore op alle vlakke as spelers in SWD-rugby getrap en is die huidige hulpafrigters van die Arende se Vodacom-span.
Leonard het veral bekendheid verwerf as Bloubul-kaptein wat verskeie kere die Curriebeker gelig het.
Fortuin het weer as Cheetah-speler ook reeds Curriebeker-triomf gesmaak.
Hy was ook die kaptein van die Arende se senior span nadat hy na sy ou provinsie teruggekeer het.
Hierdie aanstellings dui daarop dat die Arende ernstig oor die toekoms is deur hul junior spanne aan afrigters wat kundig is, en rugby op die hoogste vlak gespeel het, toe te vertrou.
Nog ‘n voormalige Springbok, Ian Hattingh wat Suid Afrika as stut verteenwoordig het, is as hulpafrigter van die SWD o.21-span aangewys. Hy was ook al in die verlede die spanbestuurder en in beheer van die voorspelers van die Arende.
Riaan Lameley, wat die SWD-vrouespan met sukses afgerig het, is as Leonard se adjudant by die SWD o.19-span aangestel.
Die Arende se direkteur van afrigting, Johann Lerm, was baie opgewonde oor hierdie aanstellings. Hy het gesê dat hierdie twee skitterende bestuurspanne is.
"Dit is manne met ervaring op die hoogste vlak en daarom kan hulle ‘n reuse rol speel om seker te maak dat die Arende se senior span konstant gevoed word met die heel beste junior spelers."
Die volledige bestuurspanne is:
o.21: hoofafrigter -Bevan Fortuin; hulpafrigter - Ian Hattingh; spanbestuurder - Perez Julyan.
o.19: hoofafrigter - Anton Leonard; hulpafrigter - Riaan Lameley; spanbestuurder - Peter Smith.

SWD Rugby se direkteur van afrigting, Johann Lerm, staan hier links by die pas aangestelde afrigtingspanne van die o.19- en o.21-spanne. Hulle is (van links) Bevin Fortuin, Anton Leonard, Ian Hattingh, Riaan Lumely en Eddie Myners.
ARTIKEL EN FOTO: JANNIE MEYER