MOSSELBAAI NUUS - Na ‘n suksesvolle uitstappie teen die Bolandse Premierligakampioen het Barbarians op sy eie tuisveld vasgeval teen die Appelboere van Grabouw.
Grabouw wat in die Overberg streek in die Bolandse kompetisie speel, het Saterdag, 23 Februarie koning gekraai deur die Mosselbaaiers met 27-17 te klop.
Die afrigterskorps onder leiding van Earl Manie, het sy optimisme na die loesing uitgespreek, aangesien hy die eerste span se diepte op die reserwebank en die laaste kombinasies op die proef gestel het, met nog een vriendskaplike wedstryd wat oorbly.
Daar was ‘n skommeling van spelers in hierdie eksperiment en die afrigter was veral beïndruk met die plaasvervanger losskakel, Warden Briesies, wat sy spanmaats goeie balbesit gegee het, wat gelei het tot ‘n skitterende drie.
Voorlangs het die veteraan en vuurvreter slot, Luwayne Fortuin, goed vertoon, maar die skrums was ‘n area van kopseer. Die wedstryd was tydelik gestop as gevolg van swak dissipline, nadat die skeidsregter drie geelkaarte aan die span van Grabouw toegeken het.
Die stampvol D’Almeida-stadion se tuisskare het deurentyd die tuisspan luidkeels aangemoedig, maar hul poging was tevergeefs.
Barbarians speel hul laaste tuis vriendskaplike wedstryd op 9 Maart teen Ashton en hoop om die bordjies te verhang en hul skare iets te gee om na uit te sien, voor die Premierliga afskop.
Barbarians se B- en C-spanne het teen Safcol gespeel. Die uitslae is Barbarians B: 72 en Safcol B: 10, Barbarians C: 29 en Safcol C: 10.
Barbarians poog om deur 'n gaping te kom.
Nog 'n Barbarians aanval.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'