Abrie de Swardt, lektor aan NMMU, het afrigters touwys gemaak in die fynere kunsies en tegnieke rondom die afrigting en ontwikkeling van spoed en krag. De Swardt het ook `n aanbieding gelewer oor die ontwikkeling van persoonlike en effektiewe afrigtingsfilosofie.
Mariëtte le Roux, lektor aan NMMU en sielkundige, het afrigters gelei rondom tegnieke om spelers en afrigters psigies te versterk.
"Ons vermoë om beide suksesse en mislukkings te hanteer is `n bepalende faktor in hoe ons die lewe hanteer," het Le Roux verduidelik.
"As ons eers bewus is van alles wat ons denke beïnvloed, kan daardie selfbewustheid ons help om ons denkpatrone aan te pas."
`n Hoogtepunt van die aand was `n aanbieding deur Rassie Erasmus, bestuurder van SARU se hoëprestasie-eenheid. Erasmus het vertel dat SARU `n voorlegging aan Sascoc gaan maak ook die bepaalde ontwikkelingsstadia van rugbyspelers op verskeie ouderdomme."Ons leer spelers van kleins af om met die bal te hardloop en dit uit te gee," het Erasmus vertel.
"Daardie vaardighede kom egter natuurlik. Ons moet op `n jong ouderdom spelers leer hoe om `n duikslag te hanteer, hoe om die bal te plaas na `n duikslag en hoe om `n losskrum skoon te maak. Daardie motoriese vaardighede vat `n lang tyd om aan te leer."
Erasmus het ook sy opinie oor die Stormers se gesukkel in die Superreeks gedeel.
"Die sleutel tot sukses in beide aanval en verdediging lê in die besluite wat spelers by elke duikslag neem," het Erasmus verduidelik.
Van links staan Mariëtte le Roux (sielkunde lektor aan NMMU), Rynhardt van As (agterlynafrigter van die SWD Arende), Hennie Baartman (president van SWD-rugby), Bevin Fortuin (hoofarigter van die SWD Arende), Rassie Erasmus (bestuurder van SARU se mobiele hoëprestasie-eenheid), Tiaan Stemmet (sportbestuurder van Langenhoven Gimnasium) en Abrie de Swardt (lektor in sportwetenskap aan NMMU).
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete | Klein-Karoo nuus'