GROOT BRAKRIVER NUUS - 'n Inwoner van Wolwedans op Groot-Brakrivier, Carmel Treurnicht (17) is onlangs verkies tot die Suid-Afrikaanse o/17-netbalspan.
Carmel was saam met 35 ander netbalspelers by die All Ages-netbalproewe in Boksburg.
Haar naam is na afloop van die proewe op Donderdag, 20 Julie saam met die ander 11 spelers wat vir die span gekies is, uitgeroep.
Carmel gaan dus volgende jaar in die posisie as aanvallende vleuel vir die Suid-Afrikaanse o/17 span by Potchefstroom uitdraf. Sy is 'n graad 11-leerder aan die Hoërskool Punt en speel netbal sedert sy in graad-1 was.
Carmel het haar laerskool-loopbaan by Groot-Brakrivier Primêre skool begin waarna sy in graad 3 na Laerskool Vorentoe is. "Ek het eers senter gespeel, toe hulpdoel en nou speel ek in die posisie as aanvallende vleuel." Sy sê haar juffrouens en afrigters het haar baie geleer. "Juffrou Marli en juffrou Anneke, juffrou Koen en juffrou Nel, en my huidige afrigter, Jeanine Snyders. By elkeen van hulle het ek iets geleer." Carmel sê sy oefen ook graag saam met die Groot Brak-netbalklub. "Die lekkerste deel van netbal is wanneer ons span pas op die baan kom en die fluitjie blaas. Ek vergeet dan van alles en fokus net om die bal by die doelpaal uit te bring. Dit is die beste."
Wanneer Carmel nie netbal oefen nie, doen sy graag driesprong. Stringe medaljes hang in haar ouerhuis. Wanneer sy klaar is met skool, wil Carmel graag onderwys gaan studeer. "En ek wil netbal afrig." Sy het 'n 11-jarige, en 21-jarige suster en sê haar ma, Leilani en pa Dalian is haar grootste ondersteuners.
Oor haar prestasie sê Carmel, dit het eintlik nog nie ingesink nie. "Dit voel soos 'n droom. Ek het elke jaar 'n doel en eers wou ek net die SWD-span haal. My doel vanjaar was om een van die 35 netbalspelers te wees wat gekies word, maar nooit het ek gedink ek gaan een van die 12 spelers wees nie."
Vir ander kinders van Groot-Brakrivier wil Carmel sê: "Volg jou droom. Hier is baie kinders op die dorp wat goed is in sport maar voel hulle gaan dalk nêrens kom nie, maar glo in jouself en gaan vir jou droom." Sy sê sy leef volgens die volgende leuse: Do your best and God will do the rest. Groot Brak is nie die einde nie, dit hang af wat ons van ons lewens maak." Carmel bedank ook oom Jorrie Jordaan en Erika Smith vir hulle ondersteuning.
Carmel in aksie op die netbalbaan.
'Ons bring jou die nuutste Groot Brakrivier, Tuinroete nuus'