EDEN DISTRIK NUUS - Die wenners van die Eden-sportraad se jaarlikse sporttoekennings word aanstaande Vrydag, 27 Julie op 'n dinee in Oudtshoorn bekend gemaak.
'n Rekordgetal van 191 nominasies is vir vanjaar se sporttoekennings ontvang. Altesame 30 sportfederasies het atlete en sportspanne vir die 31 kategorieë voorgestel.
Die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport (DKES) is saam met die Eden-sportraad die ankervennote vir die geleentheid.
Die Oudtshoorn-munisipaliteit gaan vanjaar gasheer speel vir die jaarlikse sporttoekennings.
In sommige kategorieë was daar meer as tien nominasies waarvan heelparty al Suid-Afrika verteenwoordig het,
Van die toppresteerders wat genomineer is, sluit name in soos Jovan Rebula (gholf), Trevor Davis (dien in wêreldrolbal se regskommissie en was ook 'n skeidsregter by die Statebondspele in Australië), Meike Strydom (junior atletiekster), Elma Davis (silwermedalje vir Protea-rolbalspan by die Statebondspele in Australië), Claudio Miller (lewensredding: spanbestuurder van SA junior span na Australië), Janine Kotze (pluimbal: skeidsregter by die Australiese Ope), Michelle Groves (netbal: SA skolespan na Australië) en Jean du Plessis (krieket: SA o/19-span na junior wêreldbeker).
Slegs sportprestasies wat tussen 1 September 2017 en 22 Junie 2018 gelewer is, is in ag geneem. Die wenners van die kategorieë, wat in ooreenstemming is met dié van Wes-Kaap, word outomatiese finaliste vir die Wes-Kaapse sporttoekennings, wat op 25 Augustus plaasvind.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'