MOSSELBAAI NUUS - Die St Blaize-staproete is beslis een van die uitdagendste staproetes op Mosselbaai, maar tog so belonend.
Die roete is 13,5km lank, wat ongeveer ses uur duur om te voltooi. Hoewel die roete al lewens geëis het, hetsy per ongeluk of bewustelik, bly dit steeds 'n pragtige roete om te stap. Stappers wat nie vertroud is met dié staproete van die Punt by Mosselbaai tot by Danabaai nie, moet hulself vergewis van die gevare op die roete.
Die roete loop langs die kuslyn en 'n groot gedeelte daarvan is op die kruingedeelte van die kranse sowat 30m bokant seevlak. Verskeie paadjies gaan wel af na die see toe, maar stappers word nie aangeraai om af te klim tot op seevlak nie.
13 wenke vir 13 kilometer
- Bly op die roete. Erosie het baie van die paadjies na seevlak uitgespoel en die kans om te gly, is altyd daar.
- Indien die roete gestap word, moet daar verkieslik meer as twee persone in die stapgeselskap wees.
- Selfoonkommunikasie is beperk naby seevlak, maar op die roete is die opvangs goed.
- Vermy seevlak veral met hoog- en springgety. Die risiko kan soveel verminder word indien die getye dopgehou word.
- Vermy die grotte indien jy nie vertroud is met die spesifieke grot nie.
- Pofadders en geelslange kom voor. Veral pofadders is lief om in die paadjies te lê. Kyk maar vooruit as jy stap.
- Sterk winde kom voor en dit kan mens nogal verras in sekere van die klofies.
- Neem baie water, 'n hoed en sonroom saam.
- Sorg dat jou foon se battery vol gelaai is in die geval van nood.
- Stappers moet reël om opgelaai te word aan die anderkant indien hulle net eenrigting stap.
- Goeie stapskoene word aanbeveel aangesien van die rotse baie skerp is.
- Indien die roetes laatmiddag of voor sonop gestap word, moet jy 'n flitslig saam neem.
- 'n Klein noodhulpsakkie met net die nodige neem nie baie spasie nie en kan tog 'n lewe red.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’