SPORTNUUS - Vyf van Hartenbos Drawwersklub se sewe atlete wat vir die 2023 Comrades-ultramaraton ingeskryf het, het die eindstreep gehaal.
Die vyf atlete het die wedloop soos volg voltooi: Gerhard Beeslaar 8:45, Ben Eckard 9:46, Ronelle Moller 10:30, Chris Moller 10:36 en Christo Prinsloo met 'n tyd van 11:49.
Kleintjie van Schalkwyk en René van den Berg het by Pinetown ná 9:28 by 'n afsnypunt van die wedloop onttrek.
"Die atlete sê dit was maar 'n moeilike dag met 'n baie koue Pietermaritzburg en 'n warm Durban, maar hulle het dit geniet en is volgende jaar terug," het Petro Nel, sekretaresse van die Hartenbos Drawwersklub, gesê.
Verlede jaar se wenner in die afdeling vir mans, Tete Dijana van Suid-Afrika, het weer so gemaak in 'n nuwe rekordtyd van 05:13:58. Hy het die 2019 rekord van David Gatebe met vier minute verbeter. Tweede was Piet Wiersma van Nederland en derde Edward Mothibi van Suid-Afrika. Wiersma en Mothibi het ook op die vorige rekord verbeter.
In die vroue-afdeling het die gunsteling, Gerda Steyn van Suid-Afrika, gewen met 'n tyd van 5:44:54. Sy het die 34-jaar oue rekord van Frith van der Merwe van 1989 met meer as 10 minute aan flarde gehardloop. Tweede en derde posisies is onderskeidelik deur Adele Broodryk en Carla Molinaro, altwee ook van Suid-Afrika, behaal.
Volgende jaar vind die op-wedloop plaas en die Suid-Afrikaanse langasems kan weer dopgehou word.
Gerhard Beeslaar
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’