HENGEL NUUS - Skuins voor vyf sit Guillaume Nel en teug aan sy tweede beker boeretroos. Sy voertuig is reeds gepak en oor 10 minute vertrek hy na die viswaters. Die weer en water is die vorige twee dae van alle kante bekyk. Alle voorspellings dui op uitstekende hengeltoestande en die vroegopstaner kan nie wag om sy lyn in die water te kry nie.
Teikenvis
Guillaume se gekose hengelarea is die sandkus anderkant Glentana.
Spesie nommer een wat hy in sy visier het, is die vinnige witsteenbras.
Met sy aankoms by die vangplek stoot daar 'n koel westewindjie in die blaaie. Die opwinding oor wat voorlê, hou die hengelaar egter warm. Buitendien maak die wintersonnetjie sy verskyning vroeër as verwag en kondig 'n lieflike dag aan.
Die bodemstruktuur by sy vangplek is 'n tipiese klein sandbank waaroor die branders wit rol. Die witbruisende water maak wurms, krappies, krewels en witmossels los en dek die tafel vir 'n koningsmaal vir witsteenbras en ander bodemvreters wat gewoonlik daar rondhang.
In sy aashouer het Guillaume die verleidelike keur-aas vir witsteenbras: bloedwurm, sandkrewel en sandkrap. Dis stootwater en die verwagting is groot.
Aanhouer wen
Tot Guillaume se groot teleurstelling lewer die voormiddag net 'n paar klein witsteenbrassies en 'n witstompneus op wat dadelik weer teruggesit word. Drie-uur die middag is die hengelaar moeg en moedeloos en op die punt om op te pak. Toe doen hy die regte ding: hy gaan voort met hengel. Solank die see en weer mooi is, moet jy 'n bittereinder wees.
Meteens draai die wind suidoos en net daar verander dinge. Die sakwater spoel die losgespoelde lekkernye op die bank nou oor die drop-off aan die diepsee se kant van die bank. En dis toe hier waar Guillaume sy aas nou gooi. Binne die bestek van een uur word 'n mooi belman asook twee kabeljoue van 6,4kg elk aangekeer. Die een kabeljou word teruggeplaas, want van dié spesie mag 'n hengelaar net een per dag vang.
Vooruitsigte
Ongetwyfeld sal galjoen nog oor die volgende paar weke op baie hengelaars se voorkeurlysie wees.
Heelwat galjoene, baie waarvan ondermaatvisse, is by die bekende galjoenplekke raakgeloop. Onrusbarend is dat so min visse van 2kg en swaarder gevang word. Hopelik bring die huidige stormwinde en sterk see 'n oplewing. Loop lig vir die mosselkrakers wat dikwels die rooiaas wat vir galjoen bedoel is, opraap. Om hierdie onbeskofte vegters aan 'n klein hoekie tussen rotse te land, verg heelwat vernuf. Hou ook die witsteenbras in gedagte. Die lente- en vroegsomermaande is goeie tyd vir hulle.
Stil Fishing op Stilbaai laat weet van goeie elfvangste by Jongensfontein. Berigte van goeie vangste is ook van elders ontvang. Aanduiding van 'n goeie somerseisoen wat wag? Kom ons hoop so!
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa nuus'