MOSSELBAAI NUUS - Die Mosselbaai sport- en rekreasiefees word hierdie naweek voortgesit met aksie op die renbaan, sport wat atlete se fiksheid op die proef stel en 'n verskeidenheid binneshuise sportkodes.
Die fees kom Dinsdag, 16 Oktober tot 'n einde.
Om 07:00 vanoggend (Vrydag, 28 September) skop die top 10 skole-atletiek by Hoërskool Punt af. Dieselfde tyd word duplikaatbrug by die Garden Route Casino gespeel. By die Garden Court Hotel (18:00 tot 23:00) word daar skaak gespeel met domino's by die D'Almeida-gemeenskapsaal en karate by die uitbreiding 23 binnenshuise sportsentrum.
Vir seiljagliefhebbers sal daar heeldag by Santosstrand opwinding heers met die Mosselbaairesies. Die Mosselbaai-tennisklub bied 'n kompetisie aan met raakrugby by die D'Almeida-stadion wat van 17:00 tot 24:00 sal plaasvind.
Saterdag gaan die atletiek, skaak, karate seiljag en tennis voort. Vir die motorsportgeesdriftiges is daar van 09:00 tot 18:00 by die De Bakke-parkeerarea motorrenne.
Vir die meer fikses is daar om 09:00 'n pretstap by die Ou Kragstasie. Die KFC Hoërskool Punt-krieketfees beloof ook om vir baie opwinding te sorg. By die Spar Da Nova ou fliekgebou gaan veerpyltjies gespeel word.
Feesgangers se vrees vir hoogtes gaan by die Mosselbaai-vliegveld op die proef gestel word met valskermspring.
Sondag sal die domino's, krieketfees, motorsport, valskermspring en tennis voortgaan.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'