MOSSELBAAI NUUS - Die Eden visueel gestremde rolbalspelers van die Hartenbos Rolbalklub, het in Maart aan die Nasionale Kampioenskappe vir siggestremdes in die Kaap deelgeneem.
Eben Fourie, 'n B4 speler en Charles Collen, sy gids, het vir die klub 'n goue medalje teruggebring.
Die klub se nuwe visueel gestremde vroue, Amanda Bester (B1) en haar gids, Hannetjie Fourie, en Maggie Greyling (B2) met haar gids, Jessie van Heerden, het baie goed vertoon met hul eerste verskyning by dié toernooi om teen Suid-Afrika se bestes en meer ervare spelers gemeet te word.
"Hulle het geweldig baie ondervinding opgedoen, baie geleer, goeie vriende gemaak en selfs ou skoolkennisse weer ontmoet. Ons twee vroue kan nie wag om hul staal op die baan te wys nie, en hul sien baie uit na volgende jaar se Nasionale Kampioenskap," sê Hannetjie.
Ander spelers, Pieter Grové van Hartenbos en George Nezar, rolstoelspelers van Vista Rolbalklub asook Koos Ellis van George Rolbalklub, het elk in hul afdelings baie goed gevaar, en gewys dat spelers uit Eden is spelers om mee rekening te hou.
Fourie en Collen is hard aan die oefen vir die Wêreldbyeenkoms vir Gestremde rolbalspelers waarvoor hul gekies is.
Dié byeenkoms vind tussen 18 en 31 Mei in Germiston plaas. Agter die skerms word daar hard gewerk om fondse in te samel vir die span wat aan hierdie kampioenskap gaan deelneem wat elke speler R26 500 uit die sak gaan jaag.
'n Pretdraf word ook beplan om fondse in te samel. Indien daar besighede of lesers is wat sou belangstel om hierdie siggestremde spelers te help, kan hulle Hannetjie Fourie kontak op 082 933 2254.
Charles Collen, gids vir visueël gestremde Eben Fourie regs, ‘n B4 speler wat saam hard oefen vir die Wêreldkampioenskap vir Gestremde Rolbalspelers nadat hulle het op die Nasionale kampioenskappe goud gewen het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’