MOSSELBAAI SPORTNUUS - Die Coreen Fourie eco-avontuur stap wat jaarliks op 26 Desember by die Punt aangebied word sal vanjaar uit respek vir die stryd teen die pandemie nie op sy 23ste bestaansjaar plaasvind nie.
Die avontuur het ontstaan om hulde aan Coreen en ander soos sy wat 'n onselfsugtige bydrae op verskeie platforms tot die opbou van Mosselbaai en sy gemeenskap gelewer het, te bewys.
Die roete volg die asemrowende kuslyn van Mosselbaai op die bekende St Blaize-staproete met die beginpunt by die grot en is ongeveer 6km lank met die draaipunt by die Coreen Fourie Eco Avontuur-monument.
Vanjaar word hulde aan 'n groot leier, Stoffel Fivaz (61) wat skielik die tydelike met die ewige verruil het bewys.
Stoffel was 'n boer uit Vleesbaai wat sy gemeenskap vir jare as voorsitter van die boerevereniging gedien het. Hy het aan Hoërskool Punt in Mosselbaai gematrikuleer en ook hier is hy later tot voorsitter van die skool se beheerliggaam verkies.
Op sport het hy sy streek verteenwoordig deur 32 wedstryde vir die SWD rugby unie uit te draf. Hy was 'n ware rolmodel vir baie.
Die Coreen Fourie eco-avontuur is nie 'n resies nie, maar meer 'n lekker oggend in die natuur om die prag van die see en kranse te beleef. Elke jaar word die geld uit die inskrywings aan 'n instansie in nood, so ook is 2019 se R4 910 ingesamel aan droogtehulp, geskenk.
Die organiseerders bedank alle stappers en ondersteuners vir al die jare se ondersteuning en nooi almal om nie volgende jaar se avontuur (26 Desember 2021) mis te loop nie.
Vir enige navrae e-pos: quintusdeacon@hotmail.co.za.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'