MOSSELBAAI SPORTNUUS - Met die begin van die 21 dae van inperking gister, 26 Maart, het die sportlandskap beslis ingrypend verander. Sportentoesiaste kon egter verlede week nog op 'n beperkte manier sport beoefen.
Hoewel meeste van die gholfklubs verlede week nie meer toernooie en prysuitdelings gehou het nie, het dit nie spelers gekeer om 'n paar balle te gaan rondslaan nie.
By die Mosselbaai- en Pinnacle Point-gholfklub het die Mossel Bay Advertiser verlede week 'n hele aantal spelers opgemerk.
Met meer en meer beperkings wat ingestel is, was dit vir sportentoesiaste in sekere sportkodes baie moeilik om hul sport te beoefen. Wat individuele sportsoorte betref, kon sommige sportsoorte soos roei, visvang, fietsry, draf en dies tot gister, 26 Maart nog geniet word maar judo, karate, stoei en verskeie ander kontaksportkodes het hul bedrywighede reeds gestaak na aankondigings deur die regering.
Sportsoorte wat groot getalle toeskouers lok, soos rugby en sokker is heeltemal gestaak.
Hoe lank die Covid-19-virus sport gaan lamlê, sal net tyd leer.
Eric en Johanna Fivaz sê dat gesondheid belangrik is met die uitbreek van die koronavirus. Daarom geniet hulle dit om fiets te ry.
Rip Venter
Dié manne sê hulle het selfs voor die isolasie hulle afstand gehou terwyl daar langs die Klein-Brakrivier gebraai, gehengel en gekuier was.
Annelie Kruger en Toesie Dercksen was tot voor die isolasie nog volspoed aan die oefen en is vol hoop om aan die Comrades-marathon in Junie te kan deelneem. Indien nie, bly hulle ten minste fiks.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'