Gallery
MOSSELBAAI NUUS - Die Suid-Kaap Jagters- en Bewaringsvereniging (SJB) se 25ste veldskool is die pas afgelope naweek weer op die op Wouter de Vos-skietbaan naby Klein-Brakrivier aangebied.
Trou aan tradisie van SJB is junior opleiding 'n belangrike prioriteit op die jaarprogram en het hierdie 25ste veldopleiding nie teleurgestel nie.
Aspirante leerders uit verskillende laerskole in die Suid-Kaap het deelgeneem en het hul eerste naweek van die skoolvakansie verruil vir 'n onvergeetlike naweek in die veld.
Met aankoms by die kamp moes die 33 studente Vrydagoggend in gure weer hulle eie tente opslaan wat staande moes bly tot en met Sondag.
Die verskillende aktiwiteite het dit ten doel om kinders reeds op jeugdige ouderdom toe te rus om keuses te kan maak rondom gesonde maniere van ontspanning. Hul ondervinding in die natuur, slaap onder die sterre, weg van die rekenaar, selfone, televisie en sosiale media het alles ten doel om die belangrike rol wat die mens in die natuur speel te beklemtoon.
Die verantwoordelikheid van die mens ten opsigte van die bewaring van ons natuurlike hulpbronne en die volhoubare benutting daarvan, word deurgaans beklemtoon. Verder word kinders toegerus om tydens noodsituasies in die veld en by die huis te kan oorleef.
Alle aanbiedings is sover moontlik prakties aangebied en ingeoefen, byvoorbeeld die regte keuse vir 'n skuiling, verkryging van water vir oorlewing, knope en vaswoele, nodige hand- en noodseine, korrekte nagbeweging, veilige maak van vure, oordeelkundige pak van 'n rugsak en fyn waarneming met die doel om te bewonder en te bewaar. Alles het in spanverband plaasgevind met groot kompetisie tussen die spanne.
FOTOGALERY: Suid-Kaap Jagters- en Bewaringsvereniging (SJB) se 25ste veldskool
Hulle moes dink, planne maak en self oplossings vind vir probleme en onbewustelik was hulle besig met leierskapontwikkeling, verantwoordelike optrede tydens noodsituasies, die belangrikheid van groepwerk en kommunikasievaardighede.
Hoogtepunte was die kompeterende skyfskiet met .22's, tradisionele speletjies, spanwerk, inligting oor die rol wat bye in die natuur speel en die belangrikheid van kamoeflering vir mens en dier.
Tydens die nagmars is basiese radioprosedure aan hulle verduidelik, ingeoefen en vele meer. Die vyf spanne het met sorg vyf inheemse bome geplant by die skietbaan.
Die veldkombuis se tannies het gesorg vir lekkernye na elke dag se vol program.
Die veldskool was weer eens 'n groot sukses, te danke aan toegewyde mentors wat hul kennis en ervaring met die leerders gedeel het.
En onthou, al wat moet agterbly nadat jy in die veld was, is (en al 33 leerders sal gelyk antwoord) jou voetspore...
Die volgende belangrike datum om te onthou is die junior skietkliniek met .22 gewere wat op Saterdag, 14 Mei op die Wouter de Vos-skietbaan aangebied word. Vooraf besprekings is noodsaaklik - stuur 'n e-pos na info@suidkaapjagters.co.za
Die groep wat SJB se veldskool vanjaar bygewoon het.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'