MOSSELBAAI NUUS - Die afgelope Saterdag het die buitengewone hitte, met die temperatuur wat tot 32ºC gestyg het, 'n uitputtende en intimiderende uitwerking op menige jukskeispeler gehad.
Swak weer het minder goeie jukskei tot gevolg.
Die jonger geslag, van wie daar baie min in jukskei teenwoordig is, kon in 'n mate die ondraaglike hitte deurstaan. Daarteenoor het die ouer garde waarvan 'n hele aantal die 80-merk oorskry dit moeilik gevind om volhoubaar goeie jukskeihoue te lewer.
Sommige van die ouer garde het handdoek ingegooi en moes met tye rus om energie te herwin.
Daar is in twee afdelings, te wete B en C meegeding. Ten einde meer spanne te huisves is daar voorkeur gegee aan die tripsformaat waar drie spelers ‘n span vorm.
Die B-afdeling het gevolglik vyf spanne verteenwoordig asook die C-afdeling. Uiteraard word meer jukskeie gegooi waar slegs drie spelers per span in 'n wedstryd van een uur lank duur, dus word elke speler se energie maksimaal getoets.
Hartenbos se B1-span het weer eens sy baaskap getoon deur al sy wedstryde te wen en eerste in sy afdeling te eindig, met Outeniqua in die tweede plek. In die C-afdeling het Riversdal C1 sy opponente behoorlik uitgestof en eerste geëindig (40½ punte), met Hartenbos in die tweede plek met 36 punte.
In weerwil van die uitmergelende hitte is daar tog by tye goeie houe uitgestal, hoewel uiters beperk.
Uitslae
B-afdeling: Hartenbos B1 (39.5); Outeniqua (33); Hartenbos B3 (26); Riversdal (24½); Hartenbos B2 (17).
C-afdeling: Riversdal C1 (40½); Hartenbos (36); Albertinia (33); Riversdal C2 (25) Mosselbaai (15½).
Eerskomende Saterdag, 26 Maart, besoek drie spanne van Eden Nelson Mandelabaai en vind 'n gesogte toernooi op die indrukwekkende bane van Despatch plaas.
Met die ter perse gaan was die volledige spanne nog nie gefinaliseer nie. Spelers neem beslis deel in die kleure van Eden-jukskeidistrik. Verblyf en reisreëlings is gedurende die afgelope week bekend gemaak.
Jan van Dyk van Riversdal het so pas sy tweede skei lanseer terwyl Johan van Dyk (Riversdal) en Chris Viljoen van Hartenbos ondersoekend toekyk.
Foto's: Grey Stopforth
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'