MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai Rolbalklub was verlede week die gasheer van die prestige Personal Trust Mosselbaai Classic toernooi.
Die toernooi het van 25 tot 27 Julie plaasgevind. Dis die klub se grootste toernooi en vanjaar was dan ook die 32ste jaar wat dit aangebied is.
Een van die stigterslede, Frits Louw, vier vanjaar sy 91ste verjaarsdag en is steeds ‘n aktiewe speler by dié klub.
Altesame 96 spelers van heinde en verre het deelgeneem. Van die klubs wat in aksie was sluit in Goodwood, Old Oak, Durbanville, Robertson, Ceres, Hartenbos, Outeniqua, Groot-Brakrivier, Ladismith, George, Knysna, Oudtshoorn, Clanwilliam, Hartswater, Schweizer-Reneke, Stilbaai,Vista en dan natuurlik Mosselbaai.
Die klub sê dit is ‘n bekende feit dat baie van spelers wat die afgelope 32 jaar hier in aksie was, later teruggekeer om hier te kom vakansie hou. Menigte het egter ook later eiendom hier in die Tuinroete aangeskaf en hier kom aftree.
Rolbal van hoogstaande gehalte is gelewer. Daar was ook drie Protea-spelers en 'n groot aantal provinsiale spelers in aksie.
Suid-Afrikaanse spelers Colleen Piketh, Nan Roos en Esme Kruger.
Protea-spelers Piet Grove en Wimpie Viljoen.
Die span van Goodwood was verlede jaar die wenners, maar die manne van Robertson (Mark Beviss-Challinor, Kallie van der Merwe, Fred Botha, MP Olivier) het hulle vanjaar onttroon.
Tweede was die span van Ceres (Frank Jardine, Werner Styger, Tiaan Mostert, Pieter Mostert) en in die derde plek was die span van George (Andries Janse van Rensburg, Colleen Piketh, Dirk Breedt, Bennie van Loggerenberg).