Spanne ding in drie afdelings mee, naamlik die Ope (A-spanne), Senior en B-afdelings. In elke afdeling is daar twee mans en twee vroue spanne, bestaande uit vier spelers elk, dus 'n totaal van agt. Die Ope-afdeling se kampioenskappe word hierdie jaar deur die Johannesburgse Rolbal Vereniging aangebied, terwyl die Senior-spanne ook Johannesburg se kant toe gaan, maar in die Wes-Rand gaan wees waar hulle kampioenskappe deur die Sables Rolbal Vereniging aangebied word.
Suid-Kaap is bevoorreg dat die B-afdeling hierdie jaar hier aangebied word. Die mans gaan in Oudtshoorn speel, terwyl die vroue in George by onderskeidelik George en Outeniekwa Rolbalklubs sal speel.
Aangesien dit jare kan wees voordat 'n Inter-Distrikte toernooi weer in die Suid-Kaap aangebied gaan word, is hierdie 'n wonderlike geleentheid om ons plaaslike spelers volgende week op Oudtshoorn en George te gaan ondersteun.
Mosselbaai Rolbalklub is baie goed verteenwoordig in die Suid-Kaap spanne en nie minder as nege spelers gaan volgende week aan die Inter-Distrikte deelneem. Hulle is Rita Pieterse en Brenda Burger (Vroue Ope), Estelle de Waal, Annatjie van Wyk, Elma Botha en Alida Meyer (Senior Vroue), Doug Pickup (Senior Mans) en Christo Westraadt en Renier Nel (Mans B).
Die o/19 en o/25 Inter-Distrik Kampioenskappe vind vanaf 31 Maart tot 4 April in Bloemfontein plaas. Kristy McCarthy, 'n leerder aan Hoërskool Punt, is vir die Suid-Kaap Vroue o/25 span gekies.
Mosselbaai Rolbalklub is baie trots op hierdie 10 lede en sê baie geluk en baie sterkte vir die Kampioenskappe wat voorlê.

Rolbalspelers wat Mosselbaai tydens verskillende toernooie gaan verteenwoordig - van links, agter : Kristy McCarthy (o/25), Elma Botha (Senior Vroue), Doug Pickup (Senior Mans) en Renier Nel (Mans B). Voor: Brenda Burger (Vroue Ope), Estelle de Waal (Senior Vroue), Annatjie van Wyk (Senior Vroue), Alida Meyer (Senior Vroue), Rita Pieterse (Vroue Ope) en Christo Westraadt (Mans B).