MOSSELBAAI NUUS - Die tweede Inter-distrikte jukskeitoernooi van die seisoen het verlede Saterdag op Wellington plaasgevind.
Vanweë vroeëre weervoorpellings van erge wind en moontlike swaar reën het verskeie klubs asook Overberg-distrik en die Weskus onttrek. Die minder spanne wat opgedaag het was dus teleurstellend.
Die gevolg was dat slegs drie A- en vier B-spanne aan die toernooi deelgeneem en teen mekaar meegeding het. Twee spanne van die WP en een van KWL (vroeër Boland) het in die A-afdeling meegeding terwyl Eden en KWL elk een span en WP twee spanne in die B-afdeling ingeskryf het.
Uitslae
- A-afdeling: KWL A (59½), WP A (58½), WP A2 (48½).
- B-afdeling: Eden (49), WP B2 (35½) , WP B1 (32), KWL B (32)
Die algemene mening is dat daar onder sulke omstandighede 'n herbeplanning behoort te wees en dat sodanige toernooie dan liewer na 'n later datum verskuif moet word.
Met deeglike oorleg van al die belanghebbende verteenwoordigers van die verskillende distrikte kan 'n aanvaarbare oplossing gevind word.
B-afdeling wenners Eden. Agter: Johan van Dyk, Jan van Dyk en Hendry Gerber. Voor: Vince Lee Louw.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'