Die wedren, wat in perfekte omstandighede plaasgevind het, is deur Team NuWater CVT 'n derde agtereenvolgende keer gewen in 'n rekordtyd van 5:09:04.
Die Afrishore span het die bykans onmoontlike reggekry met al 12 ryers wat tegelyk klaargemaak het. Hulle het as beloning vir die uitsonderlike prestasie, die gesogte Charles Milner medalje ontvang.
Die Charles Milner medalje word aan spanne toegeken waar al 12 ryers saam klaarmaak. Die verskil tussen die eerste en die 12 ryer mag nie meer as vyf minute wees nie.
Die Afrishore span se tydsverskil was slegs twee sekondes.
Die Afrishore span het die wedren in 'n tyd van 07:53 voltooi. Wat die uitslag soveel meer uitsonderlik maak, is dat vyf nuwelinge wat nog nooit die Double Century aangedurf het nie, in die span opgeneem was.
Die Afrishore span het bestaan uit Shirley Schmidt, Johnnie Koen, Elise Swanepoel, Helen Brink, Kobus Basson, Rooies Olivier, Sonika Lareman, Bertie Raubenheimer, Plaas Botha, Henri Meyer, Werner Rademeyer en Henry Bartlet. Die bystandvoertuig is beman deur Leon Lareman en At Bruwer.
Kenmerkend van die Afrishore span was die pienk spankleure waardeur bewustheid vir kanker aangemoedig is. Die span het die ren opgedra aan wyle Kapt Christian Schmidt, wat onlangs heengegaan het. Christiaan het dikwels met ander renne die bystandsvoertuie beman en het 'n onuitwisbare indruk op talle fietsryers en atlete gemaak.
Die roete het die uitdagende Tradouw's Pas en Op de Tradouw binne die eerste 60km van die roete ingesluit en jaers moes alles uithaal om hierdie uitdagings te bowe te kom.
Die roete het van Swellendam deur Suurbraak en oor Tradouw's Pas na Barrydale gelei. Jaers het daarna die R62 via Montagu deur die Cogmanskloof na Ashton en Robertson gevolg en deur Bonnievale gejaag na die eindstreep in Swellendam.
Die Afrishore span wil vir Shirley Schmidt van Afrishore Shipping vir haar borgskap bedank. Hulle wil ook die bystandspan bedank vir hul hulp om te verseker dat die dag suksesvol afgeloop het
Die wedren was 'n ervaring vir elke deelnemer en daar gaan nog lank gepraat word oor elke kilometer wat afgelê is.
Met vakansietyd sal baie besoekers in Mosselbaai se mooi omgewing fietsry en 'n beroep word op alle fietsryers gedoen om te alle tye sigbaar te wees en die padreëls te gehoorsaam.
Motoriste word versoek om op die uitkyk te wees vir fietsryers, veral vroegoggende op die Brandwag pad.

Die Afrishore span het die uitmergelende Coronation Double Century bergfietswedren oor 202km in 'n tyd van 07:53 voltooi.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai | Tuinroete nuus'