MOSSELBAAI NUUS - Veertien jukskeispanne het mekaar op Vrydag, 28 Julie die stryd aangesê op Gouritzmond toe die sosiale spanne van Danabaai, Boggomsbaai, Gouritzmond en Groot-Brakrivier kragte gemeet het. Die penne was aan die begin van die spel traag om te val en het soms windskeef in die klam sand gestaan.
Weens heelwat nuwe spelers het die klubs van Gouritzmond en Groot-Brakrivier selfs twee C-spanne ingeskryf. Hierdie spelers staar altyd in verwondering na die A-afdelingspelers wat so gemaklik, grasieus en met egalige bewegings die een pen na die ander laat val. Taktiek en tegniek speel beide 'n groot rol.
Uitslae
A-adeling: Danabaai 29, Groot-Brakrivier 22½ Boggomsbaai 19½ en Gouritz 19
B-afdeling: Danabaai 30½, Groot-Brakrivier 22, Boggomsbaai 20½ en Gouritz 17
C-afdeling: Danabaai 25½, Gouritz C1 25½, Groot Brak C1 25, Gouritz C2 24½, Boggomsbaai 21 en Groot Brak C2 14½
'n Groot dankie gaan aan Gourtizmond vir die goed voorbereide bane, gasvryheid en verversings gedurende die dag. Ook 'n woord van dank aan Febe vir die organisering van die program.
Die volgende groot jukskeibyeenkoms is op 9 Augustus wanneer al die Eden-jukskei, sosiale en ligaklubs, Vrouedag op die Hartenbos bane vier.
Dis 'n reusebyeenkoms waar verskeie, SA jukskei, provinsiale en sosiale spelers in gemengde spanne kragte meet. Toeskouers is welkom. Hierdie wedstryde begin 09:00.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'