MOSSELBAAI NUUS - Die jaarlikse MossMarch vind op Saterdag, 28 September om 09:00 plaas en oud en jonk kan gerus die tekkies afstof vir hierdie vroegoggendstappie langs die see.
MossMarch is 'n jaarlikse instelling van die Mosselbaai Sport- en Rekreasiefees wat vanjaar reeds vir die agste agtereenvolgende keer onder die vaandel van die munisipaliteit aangebied word.
'n Bonus vir stappers wat sommer vroegoggend inskryf, is dat die eerste 250 inskrywings met 'n gratis T-hemp beloon sal word.
Die roete, slegs vyf kilometer strek vanaf die ou kragstasie by Santosstrand via Georgeweg en Louis Fourieweg tot net voor Diasstrand.
Halfpad kan stappers verwag om 'n verversinkie te kry voordat hulle die terugtog aanpak. Inskrywings word op die oggend by die aanvang van die stap gedoen.
"Die MossMarch is elke jaar een van die Sport- en Rekreasiefees se hoogtepunte. Die munisipaliteit nooi die gemeenskap, oud en jonk, fiks en onfiks om in groot getalle aan die byeenkoms deel te neem.
Onthou, 'n gesonde liggaam huisves 'n gesonde gees," nooi Colin Puren, die munisipale woordvoerder.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'