Riding Road Mountains
Een van die hoogtepunte en aanskoulikste items van die Sportfees was waarskynlik die 'Riding Road Mountains' skaatsplankrenne teen die steil Marshstraat af. Volgens die organiseerder, mnr Michael Shephard van Waves Surf Shop, was die belangstelling in hierdie item besonders.
"Vergeleke vorige jare het ons 'n groot toename in deelnemers en toeskouers gehad. Op Saterdag het 117 geregistreerde deelnemers die renne aangepak en asemrowende spoed aangeteken. Mosselbaai se deelnemers moes meeding teen besoekers van Kaapstad, Johannesburg, Port Elizabeth, Bloemfontein en so ver as Durban. Sondag se renne het 88 geregistreerde deelnemers gelok, waarvan bykans 50 nuut geregistreerde deelnemers was," het Mike bygevoeg.
"Met die wind van agter, is besondere spoed opgestel en die gemiddelde spoed teen Marshstraat af was in die hoë 80km/h. Ons het wel verneem dat verkeersbeamptes 'n spoed van 98km/h gemeet het, maar wag nog op amptelike bevestiging."
Shephard het bygevoeg dat dit verblydend is dat deelname aan die sport met rasse skrede gegroei het. Hoop bestaan dat die byeenkoms 'n anker vir toekomstige sportfeeste op Mosselbaai sal wees.
Veerpyltjies
Die Springbok veerpyltjiespeler Francois de Villiers het in die Mans A-afdeling met die louere weggeloop en volgens die organiseerder, Hilton Truter, het die 40 deelnemers Sportfees 2013 besonder baie geniet. Al die deelnemers het as individue deelgeneem en die span van Bredasdorp het plaaslike spelers goed die stryd aangesê.
Die enigste vrouespeler, Nicolene Rheeder, het 'n spesiale toekenning vir haar deelname gekry en het ook die derde plek in die B-afdeling behaal en na die semi-finaal deurgedring.
Viswaters
Volgens Peet Mey, voorsitter van Mosselbaai se Hengelklub, het die sowat 120 deelnemers aan die Galjoen Hengelkompetisie nie dieselfde mate van sukses van 2012 beleef toe Servaas Coetzee 'n galjoen van 4.1kg uitgehaal het nie. Die gure weers-toestande het hierdie jaar se kompetisie gekortwiek, hoewel deelnemers van sover as Gouritzmond en Knysna kom lyn natmaak het.
Hierdie jaar was Johan Lourens met 'n vis van 1.476kg die wenner. Volgens Jannie Venter van Cachalot, waar die inweeg plaasgevind het, het die hengelaars nogtans die kompetisie baie geniet.
Skaak
'n Eerste vir Sportfees 2013 was die deelname van sowat 30 skaakspelers. Organiseerder Henry Willemse berig dat die deelnemers baie entoesiasties was en dat skaak 'n groeiende sportsoort op Mosselbaai is.
Albert Visagie van die George Skaakklub het die goue medalje gewen, maar elke deelnemer was 'n wenner in eie reg.
"Ons beoog om die deelname aan volgende jaar se Sportfees heelwat groter te maak, want daar is baie groot potensiaal en belangstelling in die sport. Hierdie jaar het die toernooi oor een dag gestrek, volgende jaar sal ons die gewis oor twee dae laat plaasvind," het Willemse bygevoeg.
Lyfplank-branderry
'n Totaal van 149 deelnemers van sover as KwaZulu/Natal en die Weskus neem aan die nasionale kampioenskappe deel, wat vandag ten einde loop. Volgens die kampioenskapsdirekteur, Pat Harris, verloop die kompetisie baie goed en is vertonings van die hoogste gehalte.
"Die prysuitdeling vind vanaand in die Diaz-hotel plaas en die publiek is welkom om dit by te woon," nooi Pat.

Talle sokkerspanne het dit uitgespook op die sokkervelde in KwaNonqaba.Foto: Sean Snyman

Die grootste skole krieketfees in Suid-Afrika, die KFC Punt Krieketfees, het as deel van die 2013 Sportfees groot getalle deelnemers na Mosselbaai gelok. Foto: Sean Snyman
ARTIKEL: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai | Tuinroete nuus'