Gallery
MOSSELBAAI SPORT NUUS - Die heel eerste Suid-Kaap Spring Classic-liggaamsboukompetisie is die afgelope naweek by die Diaz Strand Hotel op Mosselbaai gehou waar bykans 100 deelnemers aan die kompetisie deelgeneem het.
As deel van die agtste Mosselbaai Sport- en Rekreasiefees is hierdie een van die meer as 40 sportkodes wat tans tydens die fees beoefen word.
Die standaard van die deelnemers het geensins teleurgestel nie en die spiere het behoorlik gebult. Van die beach boy-lywe tot die fiksheidsmodelle was daar vir elke toeskouer iets om na te kyk. Die spiere het egter behoorlik begin bult toe die lig-, middel- en swaargewigafdelings vir mans hulle blinkgevryfde spiere begin wys het.
Die kompetisie het in verskeie kategorieë plaasgevind en het vanaf 13:00 tot na 22:00 die toeskouers gaande gehad.
Met Shane Kreusch gekroon as die algehele wenner in die mansafdeling. Jeanine du Preez het met die louere weggestap in die vroue-afdeling. Kompetisie was straf en het die beoordelaars laat kopkrap om te kies.
'n Ware fees
Volgens Elize Nel, wat die opening van die kompetisie names die uitvoerende burgemeester van Mosselbaai, raadsheer Harry Levendal waargeneem het, is die Mosselbaai-munisipaliteit se passie om toerisme te bevorder. Sy het gese dat sport en toerisme 'n groot en belangrike rol speel in die ekonomiese groei van die dorp speel. Volgens Nel is daar meer as 2 000 medaljes uitgedeel oor die afgelope vier weke waartydens om en by 10 000 deelnemers tydens die Mosselbaai Sport- en Rekreasiefees teenwoordig was.
Rochelle Smit, plaaslike inwoner, bo 40 SA fiksheidskampioen, heersende wêreldkampioen, asook organiseerder van dié kompetisie sê daar was 'n opgewondenheid onder beide atlete en toeskouers wat vir 'n wonderlike gees tydens die kompetisie gesorg het.
Kyk 'n video hieronder
Rochelle is nou 'n IBFF Pro-, oftewel professionele atleet. Sy het nie self nie deelgeneem nie, maar het die kompetisie op 'n baie professionele manier aangebied. Die Mosselbaai-munisipaliteit was kennlik beïndruk met die nuwe sportkode wat by die fees aangesluit het. Soveel so dat die munisipale bestuurder, adv Thys Giliomee, tot aan die einde van die kompetisie gebly het.
Volgens Rochelle is dit ook die eerste keer dat 'n liggaamsboukompetisie in Mosselbaai 'n kontantbedrag gee aan die eerste drie plekke asook 'n groot kontantbedrag vir die twee algehele wenners. "Dit is 'n aanmoediging vir elke atleet," sê Rochelle. Elke atleet wat ingeskryf het, het ook 'n R500-koepon ontvang om in te skryf vir 'n kursus by Tri Focus Fitness Academy en die algehele wenners het elkeen 'n R3 000- koepon ontvang vanaf Trifocus Fitness Academy.
Spiere was daar genoeg by die eerste Suid-Kaap Spring Classic-liggaamsboukompetisie waar die manne en vroue hul 'staal' spiere kom wys het.
Algehele wenner vroue Jeanine du Preez. Foto: Jannie du Plessis
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'