Baie ondersteuners en hope entoesiasme en spangees onder die spelers het bygedra dat die finale nie gou vergeet sal word nie.
Soos in die verlede, moes elke span weer vier klein geskenkies vir die prysuitdeling bring, wat beteken het dat elke speler wat deelgeneem het, weer 'n geskenkie ontvang het. Die span wat eerste gekom het, kon dan eerste sy geskenke gaan kies en die span wat laaste was, moes dan met die laaste vier pryse tevrede wees. Bo en behalwe die geskenkies, was daar ook baie groot kontantpryse, wat deur Spes Bona Motors geborg is, vir die eerste vier plekke.
Daar is hierdie jaar ook 'n prys gegee aan die "Corner-to-Corner" kampioen van die Besigheidsliga. Vir die eerste vyf weke van die toernooi is daar elke aand na spel "Corner-to-Corner" gespeel en die laaste aand het die wenners van die vorige vyf weke mekaar die stryd aangesê. Die algehele wenner was JC Belstead van Motocare.
Motocare en Santos Express het voor die finale die top twee plekke beklee en is hulle wedstryd met besondere aandag deur die toeskouers dopgehou. Enige een van Motocare, Santos Express, Sanlam, Point Blues en selfs ook FNB en die Old Mutual Legends kon egter nog met die louere wegstap.
Op die ou end het Motocare baie goed seker gemaak dat hulle naam op die 2013 trofee verskyn en het hulle geseëvier, met die Point Blues van Hoërskool Punt wat in die tweede plek was. Die span van Nanturf het die derde plek ingeneem en die vierde plek is gedeel deur FNB en Santos Express. 'n Spesiale prys is aan die span gegee wat tydens die toernooi die meeste vriende (en die minste vyande) gemaak het en dit was weereens die span van MeyerOtto. Baie geluk aan al hierdie spanne!
Die finale uitslae is as volg:
1. Motocare; 2. Point Blues; 3. Nanturf; 4. FNB en Santos Express; 6. ABSA; 7. Sanlam; 8. Oosthuizen, Marais & Pretorius; 9. Old Mutual Legends; 10. Luterek Prokureurs; 11. MBYBC; 12. Boshoff Visser; 13. Mosselbaai Brandweer; 14. PSG; 15. Midas; 16. Rauch Gertenbach; 17. Supa Quick; 18. SAPD; 19. Korrektiewe Dienste; 20. Point Mix; 21. Point Pirates; 22. Mosselbaai Munisipaliteit; 23. Toyota; 24. Meyer Otto.
Na die prysuitdeling, terwyl die spelers en hulle ondersteuners lekker skaaptjops, boerewors, slaaie en brood geniet het, kon mens hoor hoe dit om die tafels gons soos wat die pas afgelope toernooi herleef is en terselfdertyd volgende jaar se toernooi alreeds beplan en bespreek word.
'n Nuutjie vir hierdie jaar is dat die top vier spanne mekaar buite die Besigheidsliga weer die stryd wil en gaan aansê. Vêrder het Mosselbaai en Hartenbos Rolbalklubs se Besigheidsligas mekaar ook uitgedaag en gaan die top spanne van albei ligas ook teen mekaar speel. Daar sal 'n tuis en weg-wedstryd gespeel word. Hierdie gaan baie interessante wedstryde wees.
Mosselbaai Rolbalklub en die organiseerder van die Spes Bona Motors Besigheidsliga Rolbal wil eerstens vir Spes Bona Motors baie, baie dankie sê vir hulle getroue belangstelling, ondersteuning en hul ruim borgskap. Baie dankie ook aan almal wat hard gewerk het om van die toernooi 'n reuse sukses te maak. Soveel klublede het op soveel gebiede gehelp - in die kombuis, langs die vuur, op en van die baan, in die kroeg en oral waar iets gedoen moes word. Daar is net te veel name om te noem, maar 'n groot dankie aan elkeen van julle. Laastens 'n reuse dankie aan al die spelers, en hul ondersteuners - sonder julle sal die toernooi nie moontlik wees nie.
Ons sien saam met julle uit na die volgende keer.

Frans Senekal is hier saam met die span van Nanturf, wat die derde plek ingeneem het.

Die gesogte Spes Bona Motors Besigheidsliga Rolbaltrofee is vanjaar deur die span van Motocare ingepalm. Hier is hulle saam met Frans Senekal (middel) van Spes Bona Motors.